Home » Artikels » Heilige Gees » Die herdenking van die Heilige Gees – Louise Gevers

Die herdenking van die Heilige Gees – Louise Gevers

posted in: Artikels, Heilige Gees

Gepaste woorde na gister (4 Junie 2016)  se Heilige Gees kursus:

Handelinge 2:1-4 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

LOUISE skryf…ek het die voorreg om hierdie stuk oor die Heilige Gees voor te berei juis in die tyd wat ons as Kerk die uitstorting van die Heilige Gees op daardie eerste gelowiges en die geboorte van die Kerk herdenk. Wat ‘n wonderlike gebeurtenis was dit nie! Nadat Jesus in die hemel opgeneem is en die apostels en die vroue op een plek byeen was, word die Heilige Gees op hulle uitgestort soos Jesus belowe het:

Handelinge 1:4,8 Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, … Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

Moet ons verbaas wees dat die Heilige Gees soos tonge van vuur op hulle neergekom het en hulle in staat gestel het om in die tale te praat van die mense uit verskillende nasies wat daar byeen was? Hoe anders kon hulle getuig? Die mense was uiters verbaas om te hoor hoe die dissipels God loof en die blye boodskap van Jesus vir elkeen in sy eie taal verkondig. Elkeen wat al probeer het om ‘n vreemde taal aan te leer sal besef dat hierdie geen alledaagse gebeure was nie! Die Heilige Gees bekragtig steeds die Kerk en Pinkster word vandag steeds met vreugde herdenk.

Om, ten spyte van ons swak menslike natuur, God te kan volg moet ons die Heilige Gees persoonlik en intiem ken en moet ons sy krag in ons eie lewens ervaar. Slegs dan sal ons lewens soos dié van die apostels verander word en sal ons vrymoedig wees en aan Christus gehoorsaam. Dit help nie om van sy bestaan bewus te wees of sy kragtige werking in iemand anders se lewe te bewonder nie, of selfs nuuskierig te wonder wie Hy werklik is nie; ons moet elke oomblik van ons lewens ‘n lewende verhouding met Hom hê, want Hy is die Een wat ons lewens van die gewone tot die bonatuurlike verander.

Ten spyte daarvan dat hulle Jesus persoonlik geken het, sou die dissipels as gewone mense nie juis ver gekom het nie, maar in die krag van die Heilige Gees kon niks hulle keer nie: nie hulle eie swakheid, godsdienstige of politieke leiers nie – selfs nie eers vrees vir die dood nie. Toe Stefanus, ‘n apostel, valslik van godslastering beskuldig is en daar besluit is dat hy gestenig moet word lees ons in Handelinge 6:16: Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk. Die Heilige Gees is letterlik die krag van God wat die lewens van sy kinders, sy kerk en die wêreld verander.

En so deur sy krag is sy Kerk gebore.

Gebed: Vader, gee dat die krag van die Heilige Gees in die Kerk en in die lewens van gelowiges regoor die wêreld gevier word. Amen

Bron: http://www.versndag.co.za/