prayer changes things
Home » Artikels » Gebed » Gebed: Voor die Verkiesing

Gebed: Voor die Verkiesing

posted in: Algemeen, Artikels, Gebed

Maandag 1 Aug 2016 17:00 – 19:00

Daar sal DV Maandagaand ‘n byeenkoms onder leiding van Ds Stephan Briel en Gerhard Botha by ons kerkgebou wees waarheen die omliggende gemeentes, skole en alle belangstellende gelowiges in die omgewing genooi is. Hieronder volg riglyne om saam te kom bid en/of tuis voorbidding te doen:

Riglyne vir die munisipale verkiesings van 3 Augustus 2016

Bid vir die verkiesing. Ons nooi Christene om saam met ons te bid terwyl Suid-Afrika gereedmaak vir die Plaaslike Verkiesings op 3 Augustus 2016.

  1. Persoonlike verantwoordelikheid van Christen gelowiges.
    2 Tim.2:1-4 
    Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
    Bid asseblief dat Christene regoor die land hul verantwoordelikheid sal opneem om deurlopend te bid vir ons regeringsleiers, ongeag hulle politieke oortuiging. Bid dat alle negatiewe praatjies en kritiek vervang sal word deur ernstige gebede vol geloof omdat ons Here op die gebede en die geloof van die regverdiges reageer. Bid by name vir die mense wat as kandidate in jou gemeenskap staan, om deur die Heilige Gees oortuig te word van sonde, hul te bekeer, gered en wedergebore te word en tot kennis van die waarheid van Jesus Christus te kom.
  2. Geweld, anargie, plundery en vandalisme
    Matt.16:19 Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
    Kom ons gebruik die outoriteit wat die Here Jesus Christus aan die Kerk gegee het om die gees van geweld, anargie, plundery en vandalisme teen te staan en te bind. Bid dat mense oortuig sal word van die boosheid van geweld, anargie, plundery en vandalisme en dat hulle sal terugdraai van hul bose weë en vreedsame maniere sal vind om hul opinies te lug.
  3. Onderliggende ideologieë van sosialisme, kommunisme, humanisme en materialisme
    2 Kor.10:3-6 Natuurlik leef ons in ‘n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. Ons is ook gereed om met elke ongehoorsaamheid af te reken sodra julle eie gehoorsaamheid volkome is.
    Bid dat die mense nie oningelig sal wees oor die gevare en misleiding van sosialisme, kommunisme, humanisme en materialisme nie. Laat ons met vrymoedigheid die troon van genade toe gaan en vra vir die vernietiging van elke argument en ideologie wat nie in lyn met die waarheid en die wil van God is nie en wat tot die vernietiging van ons land sal lei. Bid dat mense verlos sal word van ideologiese vestings wat opgerig word in die denke van mense deur middel van misleidende argumente. Bid dat mense nie gemanipuleer sal word deur sprekers met baie charisma nie en dat emosionele opsweping mense nie irrasioneel sal laat optree nie.
  4. Ontbloting van leuens
    Efes.5:6-11
    Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.
    Bid dat God deur Sy Heilige Gees alle leuens, verborge motiewe en onheilige verbonde tussen mense en ook tussen mense en die bose magte sal ontbloot. Bid dat die Kerk die onderskeidingsvermoë en wysheid sal hê om te weet hoe om betrokke te wees in die verkiesing sonder om mislei en misbruik te word deur politici vir persoonlike en politieke voordeel.
  5. Veiligheid en sekuriteit
    Jak.3:14-18
    Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.
    Bid dat daar vrede tydens en ook na die verkiesings sal wees, ongeag die uitslag daarvan. Bid dat geen nuwe geweld sal opvlam nie en dat vredemakers oral sal opstaan en verantwoordelikheid sal aanvaar vir hul gemeenskappe. Bid vir effektiewe polisiëring en dat mense aktief sal werk dat daar vrede kan kom, asook vir versoening en postiewe nasiebou in plaas van geweld en vernietiging van gemeenskappe. Bid dat die interne magstryd tussen politici en politieke partye plek sal maak vir opbouende dialoog en respek vir lewe.
  6. Verkiesingsproses
    Bid dat die verkiesingsproses vry en regverdig sonder omkopery, manipulasie, intimidasie of onderduimse beïnvloeding van kiesers sal wees. Bid vir eerlike verkiesingspersoneel sodat die kiesproses sonder korrupsie of belemmering kan verloop.
  7. Leierskap
    Dan.2:20-22
    Daniël het gesê:“Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig.
    Bid dat God die leiers wat Hy uitgesoek vir die seisoen waarin Suid-Afrika nou is. Bid dat Hy in Sy wysheid Suid-Afrikaners sal help om wys en reg te kies sodat Sy wil in ons land sal geskied. Bid dat ongeag die uitslag van die verkiesing, die evangelie ongehinderd verkondig kan word, dat baie mense Jesus Christus as die Here van hul lewens sal kies en dat God vir ons ‘n tydperk van versoening, herstel en herlewing sal gee.

(Saamgestel deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk)