Home » preke » Sondag 9 Mei 2021 Stephan Briel

Sondag 9 Mei 2021 Stephan Briel

posted in: preke

Lees: Luk 5:1-11 en Joh 21:1-14
Fokus: Luk 5:8

Waartoe bring sondebesef jou?

1. Die Here se optrede in ons lewens lei tot sondebesef.

Jesus se wonderwerk in Petrus se visserswêreld waar hy die “kundige” is, maak Petrus se oë oop en hy erken Jesus se Goddelikheid. Hy noem Jesus nou in ons fokusvers: “Here”. Dit is ‘n titel vir God en dui op God wat bonatuurlike outoriteit uitoefen oor die ganse skepping. Jesus is nou vir Petrus meer as ‘n Leermeester, hy erken dat Jesus God is. Daarom val Petrus neer en roep: “…ek is ‘n sondige mens.”

Dit is die natuurlike reaksie by die mens wanneer God verskyn: jy kom onder die indruk van jou sondigheid.

2. Die hantering van ons sondebesef.

Petrus erken wel op hierdie stadium dat Jesus God is, maar hy ken en glo nog nie in Hom as die Verlosser van sondes nie. Uit onkunde en ongeloof stuur hy sy enigste Verlosser en Saligmaker weg uit sy lewensbootjie. So kan jy ook vandag Jesus uit jou lewensbootjie wegstuur omdat jy nog nie werklik in Hom glo as enigste Saligmaker en Verlosser nie.

Genadiglik het Jesus nie gehoor gegee aan Petrus se versoek nie. En ons lees in Joh 21:1-14 dat net na Jesus se kruisiging en opstanding uit die dood, Petrus weer ‘n kans kry. Dit is dieselfde omstandighede maar Petrus se optrede is die tweede keer so anders.

Vir nadenke en gesprek by selgroepe en huisgodsdiens:

  • Petrus spreek Jesus aanvanklik aan as “Meneer” (Luk 5:5). Wat het veroorsaak dat Petrus Jesus later as “Here” (Luk 5:8) aanspreek?
  • Hoekom stuur Petrus vir Jesus as Here weg? Hoe doen ons dieselfde vandag?
  • Wat is die verskil in Petrus se optrede die tweede keer na Jesus se kruisiging en opstanding waarvan ons lees in Joh 21:1-14?
  • Wat is die regte hantering van ons sondebesef?