Home » Artikels » Algemeen » Geskiedenis van Bergbron Gemeente

Geskiedenis van Bergbron Gemeente

posted in: Algemeen, Artikels

Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes

Die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Wes
Die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Wes

Die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Wes was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in, soos die naam aandui, die weste van die Goudstad met sy kerkgebou in die voorstad Brixton.

Die gemeente het op 13 Desember 1930 van die Gereformeerde kerk Johannesburg afgestig nadat Johannesburg-Oos en -Noord reeds ses jaar vantevore onderskeidelik op 9 Februarie en 1 Maart 1924 van Johannesburg afgestig het. Die gemeente Johannesburg-Wes het sy kerkgebou 1 km wes van die Hertzog- of Brixtontoring opgerig in Putneyweg, Brixton, op ’n rif wat as waterskeiding dien vir afvloei na die noorde en die Vaalrivier in die suide. So was die kerkgebou soos ’n kerk op ’n berg vir die omliggende voorstede van Brixton, Aucklandpark, Rossmore, Westdene, Mayfair-Wes, Crosby en Hurst Hill waar mettertyd so ’n groot konsentrasie Afrikaanssprekendes gewoon het dat feitlik elkeen van dié voorstede ’n NG gemeente kon onderhou: Brixton, Aucklandpark, Johannesburg-Wes, Westdene, Mayfair, Fordsburg, Crosby en Crosby-Wes. Langlaagte, Mayfair en Cottesloe (Vrededorp) het in Maart 1952 deel geword van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal, terwyl ’n gedeelte van Aucklandpark saam met Melville deel was van Johannesburg-Noord.

Op 1 April 1943 is die grense tussen Johannesburg en Johannesburg-Wes opgehef, toe die gemeente Johannesburg-Wes word. Op 22 Oktober 1950 is Johannesburg herstig en het dit vanaf 1952 bekendgestaan as Johannesburg-Mayfair.

Teen 1970 het daar nog so baie Afrikaanssprekendes in dié gebied wes van die Johannesburgse middestad en oos van Roodepoort gewoon, daar is beweer dis die digste sametrekking van Afrikaners in die hele land. Ongelukkig het hier ook een van die mees ingrypende demografiese veranderings plaasgevind wat gelei het tot die vermindering van sewe NG gemeentes tot net een, die Brixton-kerk, en die ontbinding van die enigste twee Gereformeerde kerke.

Vroeg in die sewentigerjare het Johannesburg-Wes amper 700 siele gehad. Die oprigting van die Randse Afrikaanse Universiteit en die SAUK se nuwe uitsaaisentrum het ’n verjonging teweeggebring in die gemeente wat reeds aan die verouder was. Ongelukkig het die grootskaalse verhuising van lidmate na voorstede vêrder van die middestad voortgeduur en eindelik besluit die gemeente in 1999 om te ontbind. Lidmate het daarna ingeskakel by die Gereformeerde kerk Delarey in die aanliggende Roodepoort, waarvan die naam terselfdertyd Bergbron geword het.

Danksy sendingwerk in die destydse bruin woonbuurt Newclare, kon daar in 1960 ’n Gereformeerde kerk gestig word wat vandag (2015) nog bestaan.

Predikante van Johannesburg-Wes

  • Venter, Abraham Adriaan, 1935–1951
  • Van der Walt, Dirk Jacobus, 1951–1955
  • Van der Walt, dr. Louis Stefanus, 1955 (aanvaar sy emeritaat en gaan werk tot 1962 by die Bybelgenootskap)
  • Duvenage, Abraham Petrus Carolus, 1962–1971
  • Kruger, dr. Mechiel Andries, 1971–1974
  • Opperman, Paul Jacobus, 1974–1988 (aanvaar sy emeritaat)
  • Steyn, Jan Hendrik, 1988-1995 (verlaat die bediening)
  • Pretorius, dr. Jacob Bluris, 1995–1998 (waarna Bergbron tot 2001)

Die Gereformeerde kerk Florida

Die Gereformeede Kerk Florida
Die Gereformeede Kerk Florida

Die Gereformeerde kerk Florida was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika wat in 2003 ontbind het, sowat 60 jaar nadat dit gestig is.

Florida het in 1942 ontstaan uit dele wat later aan die ooste sou afstig as Roodepoort en in die weste as Delarey. Dié dele is afgestaan onderskeidelik Krugersdorp en Johannesburg en wat saamgevoeg is en gesamentlik die naam Florida gekry het. Delarey, waarvan die naam later Bergbron geword het, het in 1954 afgestig en Roodepoort in 1957. Ook Noordrand (1960) en Ontdekkers (1966) is afgestig van Florida. Ná die Florida-gemeente se ontbinding het die meeste van die lidmate dan ook by een van die jongste twee afgestigte gemeentes aangesluit.

Ds. J.F. du Plooy het die kerkgebou se hoeksteen op 18 Oktober 1947 gelê. Die kerkgebou is in 1948 voltooi en dr. J.D. du Toit (Totius) het by die inwyding opgetree. Die kerksaal, wat die naam Johannes Calvyn gekry het, is langs die kerkgebou opgerig.

In die laaste jaar van sy bestaan het Florida net 153 belydende en 20 dooplidmate gehad, vergeleke met Noordrand se 488 en 150 en Ontdekkers se 414 en 116. Einde 2014 was daar in Noordrand 344 belydende en 54 dooplidmate en in Ontdekkers 385 en 72.

Predikante van Florida

  • Du Plooy, dr. Jan Frederick, 1943–1958
  • Duvenage, dr. Benonie, 1958–1967
  • Francois Denkema, 1965 – 1975 (sendingleraar)
  • Maritz, Willem Johannes, 1967 – 12 Augustus 1983 (oorlede in die amp)
  • Mulder, Pieter Willem Adriaan, 1985–2003
  • Die Gereformeerde kerk Delarey

Die Gereformeerde Kerk Delarey

Bergbron Gereformeerde Kerk
Bergbron Gereformeerde Kerk

Die Gereformeerde kerk Delarey was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, deels in Roodepoort en deels in Johannesburg, waarvan die naam in 1998 Bergbron geword het nadat Johannesburg-Wes en die Melville-gedeelte van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord by Delarey ingelyf is.

Die westelike wyke van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes het op 15 November 1942 afgestig saam met die oostelik wyke van Krugersdorp om die Gereformeerde kerk Florida te vorm. Dié gemeente was deels in die verre weste van die stad Johannesburg, rondom voorstede soos Albertskroon en Albertsville, en in die ooste van Roodepoort geleë. Die enigste beskikbare bron oor die stigting van Delarey gee twee verskillende weergawes van die verloop van die gemeente se eskiedenis. Volgens een beskrywing het die Gereformeerde kerk Roodepoort op presies dieselfde dag in 1942 van die Gereformeerde kerk Krugersdorp afgestig, maar elders word vermeld die oostelike wyke van Krugersdorp het eers in Mei 1943 afgestig en saam met Delarey die Gereformeerde kerk Florida geword. Dit is egter onwaarskynlik, want die Almanak van die GKSA gee Delarey se stigtingsdatum aan as 1954 en Roodepoort s’n as 1957.

Op 3 Oktober 1954 het die ou Delarey-wyke opnuut afgestig (volgens die een bron; volgens ander inligting vir die eerste keer) en van toe tot 1998 sou dié gemeente bekendstaan as Delarey. Die Gereformeerde kerk Roodepoort het in 1957 tot stand gekom toe dit van Florida afstig, maar laasgenoemde is in 2003 en eersgenoemde in 2012 by die Gereformeerde kerk Ontdekkers ingelyf. Omstreeks sy afstigting het die kerkraad van Delarey ’n kerksaal in die Johannesburgse voorstad Newlands bekom. Dienste is vir eers daarin gehou.

In 1960 begin beplanning aan die ’n nuwe gebou. Die argitek J. Koelewyn van die firma Geers en Geers is aangestel om die plan op te stel en J.J. Grabe as bouaannemer. Op 18 November is dié tipiese kappiekerk se hoeksteen gelê en in April 1962 is dit amptelik in gebruik geneem.

Predikante van Delarey

  • Van der Walt, Gert Louis, 1955 – 15 April 1976 (oorlede in die amp)
  • Minnaar, Izak Christoffel Johannes, 1977–1993 (aanvaar sy emeritaat)
  • Oostenbrink, dr. Johann Wilhelm, 1990–1998 (waarna Bergbron tot 2002)
  • Coetsee, Human Beukes, B.A., Th.B., 1993–1998

Gereformeerde Kerk Bergbron

Delarey se naam is in 1998 na Bergbron verander nadat die gemeente se grense vergroot is vanweë die insluiting van Melville en omstreke.

Predikante van Bergbron

  • Pretorius, Jacob, Bluris, Th.B., Ph.D., 1998–2001 (met inlywing oorgekom vanaf Johannesburg-Wes 1995-1998)
  • Oostenbrink, dr. Johann Wilhelm, 1998–2002 (voorheen van 1990 af Delarey)
  • Van Niekerk, dr. Rudolph Leon, 2001 – 2015
  • Briel, Stephanus Johannes, 2002 – hede

Bronne:
Wikipedia
Florida Foto met vergunning van GGSA
Johannesburg Wes Foto – GKSA argief