Home » Artikels » Gebed » Die Uur Wat Die Wêreld Verander

Die Uur Wat Die Wêreld Verander

posted in: Artikels, Gebed

Dick Eastman, in sy boek The hour that changes the world, doen aan die hand dat ‘n mens ‘n uur in 12 periodes van 5 minute elke indeel. Na elke 5 minute gaan jy oor na ‘n ander vorm van gebed. Hier volg Dick Eastman se indeling:

Die uur wat die wêreld verander
1 Aanbidding, 2 Wag op die Here, 3 Sondebelydenis, 4 Bid die Skrif, 5 Waak, 6 Voorbidding, 7 Persoonlike versoeke, 8 Danksegging, 9 Sang, 10 Meditasie, 11 Luister, 12 Lofprysing

Die volgende is ‘n kort samevatting van elkeen van die 12 aspekte van gebed.

1 Lofprysing/Aanbidding is ‘n daad van bewondering van en toewyding aan God.

Ps.115:1 sê: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.”

  • Aanbid God vir wie Hy is: die een wat jou geskep het – vir sy onfeilbare Woord – vir jou verlossing – dat jy in sy plan ingesluit is.
  •  Dit is om God te verhoog en te vereer.
  •  Dit is om te God te erken vir wie Hy is, om Hom met ons woorde, ons hele wese en ons gebedshouding groot te maak.
  • Loof Hom vir sy Naam, sy geregtigheid, liefde, heiligheid, almag, grootheid, trou, alomteenwoordigheid, sy Woord, sy skepping, sy verlossingsdade ens. Jy kan bv. elke keer ‘n ander tema kies om in hierdie tyd van lofprysing en aanbidding te gebruik. Brei soveel moontlik op hierdie tema uit, oordink dit, oorweeg wat die praktiese implikasies daarvan vir jou en ander se lewens is.

2 Wag op die Here is ‘n daad van oorgawe aan en liefde vir God en bewondering van God, (dikwels woordelose aanbidding).

Wees stil en weet dat Ek God is. (Ps.46:11)

  • Dit is waar ek stil word voor God.
  • Waar ek geestelik die deur toemaak vir enige invloed van die wêreld.
  • Waar ek deur ‘n daad van geloof in sy teenwoordigheid kom staan.
  • Dit is om God te aanbid en te prys vir wie Hy is.
  • In hierdie stilte periode stel ons ons in op God self, rig ons ons wese op Hom en wy ons ons opnuut aan Hom toe. Ons verbly ons in sy teenwoordigheid en oor sy teenwoordigheid.
  • Dit is ‘n tyd van diep persoonlike en intieme kommunikasie met God, dit is wanneer ek as beperkte en eindige wese in die teenwoordigheid van God as die Onbeperkte en Oneindige Wese kom staan.
  • By hierdie punt maak ons seker dat ons lewende kontak met God maak. Hierdie tyd van wag op die Here kan nie afgejaag word nie, daar is nie plek vir ongeduld en haastigheid nie.
  • In hierdie periode dink jy aan niks anders as aan God die Vader, sy Seun Jesus jou Verlosser en die Heilige Gees nie.
  • Gedagtes wat by jou opkom hoef jy nie noodwendig om te sit in woorde nie. Konsentreer op jou verhouding met God en jou liefde vir Hom.

3 Sondebelydenis/verootmoediging is ‘n daad van belydenis en reiniging van my myself as God se tempel sodat ek vrye toegang tot God kan hê.

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie. (Jes.59:1-2) Maar as ons ons sondes bely. Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Joh.1:9)

  • Dit is die plek waar ek sonde op sy naam noem, my skuld bely, erken dat dit verkeerd is en daarvan wegdraai – en God se vergifnis aanvaar.
  • Waar ek God vra om met elke vorm van hoogmoed en liefdeloosheid te deel.
  • Dit is ‘n tyd van self ondersoek en om die Heilige Gees toe te laat om enige onbelyde sonde aan jou uit te wys. Verlossing en vergifnis van ons sonde verkry ons slegs deur die bloed van die Here Jesus en op grond van sy soendood aan die kruis.
  • In sondebelydenis vra ek nie dat God noodwendig omstandighede moet verander nie, maar dat Hy mý sal vergewe en mý sal verander.

4 Bid die Skrif is om myself geestelik te voed en volgens God se agenda en openbaring te bid

  • Dit is Woord-verrykte gebed – die Woord is jou handleiding om te bid.
  • Dit is om volgens God se beloftes te bid. God se beloftes in die Woord wek geloof in ons harte.
  • Die Bybel is in die eerste plek ‘n boek wat geglo en gehoorsaam moet word. In hierdie periode vra ek: “Here, watter beloftes kan ek vir my toe-eien, watter bevele moet ek gehoorsaam, op watter waarskuwings moet ek ag slaan?
  • Ons moet die Here dag en nag aan die beloftes in sy Woord herinner. Soos wat jy die Bybel lees, moet jy vir die Here vra hoe om dit toe te pas in jou lewe en in jou gebedstyd.
Wereld Evangelisasie
Die ingeslote skets sal jou help om te weet op watter verskillende areas jy in jou gebed moet fokus. Hierdie skets sal jou help by veral die volgende gebedsperiodes: waak, voorbidding, luister en danksegging.

5 Waak is ‘n tyd van geestelike waarneming, om geestelik te waak, om geestelik bedag te wees op sake waarvoor daar gebid moet word.

“Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar” (Kol.4:2).

  • Om te waak en bewus te wees van die moontlikheid van aanvalle van die Satan. Bid en vra die Heilige Gees om jou te wys op die planne (drogredenasies), metodes, vestings en strategieë van die Bose.
  • Om bedag te wees op enige leiding van die Here.
  • Om bedag te wees op enige openbaring van God.
  • Vra vir insig, onderskeiding, wysheid en om te verstaan waarop jy moet fokus en wat jou prioriteite moet wees.
  • Om te verstaan wat die wil van God is, waar Hy jou wil gebruik vandag.
  • Om vir die Here te vra wat op sy hart en op Sy agenda is.
  • Is daar dinge wat in die koerante staan, wat ons oor die radio hoor of op die TV sien waarvoor ons moet bid; dinge soos ekonomiese probleme, politieke onrus en oorloë, waaroor God wil hê jy moet bid?

6 Voorbidding/Intersessie is om vir ander mense in te tree, om te konsentreer op die nood en behoeftes van ander mense, om vir ander in die bres te staan.

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. (1 Tim.2:1-2)

  • Om te bid vir God se plan in ander se lewens.
  • Om tussen God en ander mense te gaan staan en vir hulle behoeftes te bid – te vra vir genade en barmhartigheid.
  • Dit is ‘n geestelike posisie voor God – om daar te bly staan totdat jy die versekering het dat God jou gehoor het en Hy jou vrystel om nie meer daarvoor te bid nie.
  • Dit is God se metode om sy kinders te betrek in sy plan met die wêreld.
  •  Wanneer jy voorbidding doen, staan jy aan God se kant en werk jy saam met Hom tot redding of voordeel van iemand anders.
Daar kan tye van “geestelike oorlogvoering” in ons gebedstyd wees. Bid en vra die Here om deur die werking van die Heilige Gees aan jou te toon waar magte van die Bose aan die werk is. Vanuit jou outoriteit in Christus moet jy die magte van Satan in Jesus se Naam bind, hulle vestings verbreek en drogredenasies vernietig. Weerstaan die duiwel en gee aan hom geen vashouplek nie. Jesus het die Bose aan die kruis oorwin. Ons as gelowiges, moet hierdie oorwinning op elke terrein van die lewe gaan proklameer. Die aspek van geestelike oorlogvoering sal o.a. na vore kom in die periodes van waak, voorbidding en persoonlike versoeke.

7 Versoeke vir jou persoonlike behoeftes.

Gee ons vandag ons daaglikse brood (Matt.6:11) Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (Fil.4:6) Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie. (1 Kron.4:10)

  • Om vir my “daaglikse brood” te bid.
  • Om my eie nood, emosies, krisisse, behoeftes en begeertes na God toe te bring.
  • Met nederigheid en in totale afhanklikheid kom vra ek God om in my behoeftes te voorsien. Ek kom as God se dienskneg en sy kind.
  • Moenie voorskriftelik wees nie.
  • Kom met geloof en vertrou – as God se vriend.
  • Wees spesifiek.
  • Christene mag met vrymoedigheid hulle persoonlike behoeftes na die Vader toe bring. En hy kan met ‘n verwagting bid, selfs oor die kleinste dingetjies.
  • Waak teen selfsugtige begeertes.

8 Danksegging is ‘n tyd waarin ek my waardering teenoor God uitspreek vir sy sorg en beskerming en vir wie Hy is.

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tess.5:18)

  • Dink oor die dag en dank God vir sy sorg vir jou en ander.
  • Dank God vir nuwe dinge wat Hy gedoen het en doen: geestelik, fisies, sosiaal.
  • Dank Hom oor wie Hy is, sy gawes, antwoorde op gebed – al sy seëninge.
  •  Wees spesifiek in jou danksegging.

 

9 Sang is melodieuse lofprysing/aanbidding.

Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag. (Ps.100)

  • Dit is ‘n aksie om God met geestelike liedere te aanbid en te prys.
  • Dit kan ‘n “battle cry” teen die magte van die duisternis wees. Sang en geestelike oorlogvoering (ons stryd teen die Bose) is onlosmaaklik deel van mekaar.
  • Gebruik bekende liedere of sing jou eie nuwe liedere. Jy kan begin deur Skrifgedeeltes te neem en daarvan liedere te maak.
  • Dit is om die Vader deur sang te verheerlik, te bewonder en te aanbid.

 

10 Oordenking (meditasie) is om ‘n saak dieper te oordink of te ondersoek, om dit geestelik te evalueer.

Dit gaan goed met die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. (Ps.1:1-3) Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. (Jos.1:8)

  • Mediteer (oordink) oor die wese en die natuur van die Drie-Enige God, sy skepping, sy dade (werke) en karakter.
  • Neem ‘n spesifieke tema uit die Skrif en dink daaroor (geregtigheid, liefde, waarheid, lig, vrede, heiligheid, ens.)
  • Neem ‘n Skrifgedeelte en oordink dit (mediteer).
  • Maak God self die hooffokus van jou meditasie/oordenking: sy werke of dade, sy Woord, sy karakter.

Christelik oordenking (meditasie) staan teenoor Oosterse meditasie. In Oosterse meditasie gaan dit hoofsaaklik oor ‘n passiewe gemoedstoestand en om jou verstand “leeg” te maak. Vir die Christen is oordenking ‘n aktiewe proses van evaluering, ondersoek en bepeinsing waarby jy met jou volle verstand betrokke is en waar jy jou deur die Skrif en die Heilige Gees laat lei. Oordenking is om gedissiplineerd na te dink. Waak dat die Satan nie sy gedagtes in jou plant nie. Waak ook teen negatiewe gedagtes in hierdie periode. Bedink alles wat waar, rein, edel, reg, mooi en prysenswaardig is. Wanneer jy ‘n betrokke gedeelte uit die Skrif oordink moet jy onder andere vir jouself vra wat hierdie gedeelte vir jóú wil sê.

 

11 Luister is ‘n periode waarin jy opdragte van God ontvang, waar jy Hom vra om vir jou dinge te wys wat Hy wil hê dat jy sal raaksien en aan aandag moet gee.

Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ‘n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees. (Pred.5:2)

  • Dit is om na die innerlike stem van die Heilige Gees te luister.
  • Waar jy vra: Wat is daar wat U wil hê ek moet doen? Wat is U wil vir vandag?
  • Om leiding uit die Woord te soek.
  • Om God doelbewus te vra om sy wil en strategieë/planneaan jou bekend te maak.
  • In wag op die Here gaan dit om God lief te hê. Tydens oordenking wil ons meer van God leer. In die periode van luister wil ons hoor wat God vir ons wil sê. In hierdie periode vra ek: “Here, wat verwag U van my, wat is U wil vir my?”
  • Jy kan ook vir die Here spesifieke vrae vra, miskien moeilike vrae waarop jy nie antwoorde het nie. Wees sensitief vir die Heilige Gees.
  •  Wees versigtig om sommer vinnig te sê: “Die Here het dit en dat vir my gesê.”

12 Lofprysing is om God groot te maak, te verheerlik, aan Hom te sê dat jy weet tot Wie jy gebid het en dat jy Hom vertrou met jou gebede.

Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt.6:13)

  • Maak jou amen aan die einde sterk en bevestig daarmee dat jy glo dat God jou gehoor het en sal verhoor. Amen beteken: dit is waar en seker, dit sal so wees.
  • Dit is ‘n finale geestelike daad om God op die troon van jou lewe te plaas.
  • Dit is waar jy bely: Aan U behoort die koninkryk en die mag en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Bron Jerigo Mure