Home » Artikels » Gebed » Jesus se gebed: Ontdek die patroon van Goddelike gebed

Jesus se gebed: Ontdek die patroon van Goddelike gebed

posted in: Artikels, Gebed

Het jy al ooit so gebid? Indien wel klink die onderstaande bekend?

Here? Is U daar?
Van my kant af het ek hulp nodig – NOU! , as dit moontlik is.

So terloops …. , asseblief hou my gesond en gelukkig en finansieel stabiel.

Sodra ek iets nodig het sal ek U daaroor inlig.

Gebed is meer as dit – baie meer! Dit is nie ‘n inkopielys nie. Dit is nie om antwoorde te kry op die oomblik wat jy dit wil hê nie!

Dit is nie om vir onsself gesondheid, gelukkig te wees en finansiele welvaart te verseker nie.

Weet jy wat! Gebed gaan nie oor ons nie! Gladnie!
Gebed vloei voort uit ‘n verhouding tussen God as Skepper en ons as skepsele. God het gebed uitgedink as ‘n metode om met ons te kommunikeer.

Oorsprong van Gebed

Kyk na die diagram en sien dat die oorsprong van elke gebed begin by God self. Deur die HG word gebed gedra na die binneste van (ek/ jy ) as gelowiges. As ons sensitief is en hoor, bid ons die gedagte terug , deur Jesus Christus na Vader. Dus elke gebed wat jy en ek tot God rig , het reeds by Hom ontstaan. Ons is slegs instrumenteel om dit terug te bid na Vader.

In die volgende weke wil ons dieper delf en ‘n nadere beskouing verkry as God die Seun , Jesus Christus bid. Ons hanteer dit in kort gedeeltes weekliks.

Ons bid regtig dat jou hart in kontak kom en sinchroniseer met die Hart wat bid vir my en jou, Jesus!! Ek glo as ek en jy naby God kom, verander Hy ons.

Ons kyk na Jesus se gebed volgens Johannes 17. Hoekom?

Jesus het toegelaat dat Sy volgelinge Sy gesprek met die Vader kon hoor. Dit was onmiddelik voor Sy pad na die kruis. In Sy gebed bied Jesus ons ‘n lywige perspektief van die diepte van wat met ‘n verhouding bedoel word. Wat gebed tussen God en Sy kinders kan bied!

Johannes 17 Jesus se gebed vir Sy dissipels

1 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2 U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3 En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4 Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5 Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. 6 “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8 want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. 9 “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10 Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11 Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12 Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word. 13 “Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14 Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16 Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17 Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18 Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19 en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees. 20 “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22 Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. 24 “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. 25 “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26 Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”