Home » Artikels » Algemeen » ‘Stille Week’ 29 Maart tot 6 April 2026

‘Stille Week’ 29 Maart tot 6 April 2026

posted in: Algemeen, Artikels

Doringkroon

Ons plaas graag die volgende oordenkings oor die laaste lydensweek  van die Samuelkerk en De Voorhof. Vertaal deur Ankie de Klerk.

‘Stille Week’

29 Maart tot 6 April 2026

Die Skrifte is vervul

Lukas 24:27

Inleiding

Jy ontvang weer ‘n boekie nes die vorige jaar met oordenkings vir die laaste Lydensweek (‘Stille Week’).

Die tema wat vanjaar sentraal staan, is: ‘Die Skrifte is vervul’. Hierdie tema het na vore gekom uit die nuuskierige vraag oor alles wat Jesus in Lukas 24:27 vir die Emmausgangers sou vertel het. Watter teksgedeeltes sou Hy aangehaal het? En wat sou Hy daaroor gesê het? In hierdie boekie sal jy vir elke dag van hierdie Stille Week ’n oordenking kan lees. As bonus het ons besluit om, benewens die oordenking vir Paassondag, ook een in te sluit vir Gesinsdag (Paasmaandag). By elke dag is daar ’n teksvers/-gedeelte(s) uit die Ou Testament, waarop ‘n oordenking volg aan die hand van ‘n gedeelte uit die lydensverhaal van Jesus. Ons poog so om hierdie week elke dag stil te staan by die lyde, die dood en/of dieopstanding van Jesus, om troos, krag en bemoediging daaruit te put, en om te sien hoe Hy daarmee ‘die Skrifte vervul’ het. Op Paasmaandag voltooi ons die sirkel deur die gedeelte oor die Emmausgangers te lees. Die oordenkings is vanjaar weer geskryf deur Carola van der Kruk en die raaisels is saamgestel deur Annette Hildering. Ons wens julle almal ‘n geseënde Stille Week toe, en ook ‘n vreugdevolle Paasfees.

Namens die voorbereidingskommissie van die Samuelkerk en De Voorhof, Roelof Veen, Ciska Otten, Annette Hildering en Carola van der Kruk

Sondag 29 Maart – Palmsondag

SAGARIA 9:9-10 VERVUL

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, … Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.

Lees: Lukas 19:29-42

Vrede. Hoe baie kan ‘n mens daarna verlang as jy hoor van al die geweld en van al die ellende in hierdie wêreld, ver weg en naby. Ook die Jode in die tyd van Jesus het daardie verlange geken. Daarby het hulle dan veral gedink aan bevryding van die Romeinse oorheersing. En dié verlange het by baie ook gepaard gegaan met die verlange na die koms van die beloofde Messias. As hy kom, sou hy hulle verseker van hul onderdrukkers bevry. ’n Mens bemerk dit ook in ons teks in Lukas 19. Die mense ontvang Jesus soos ‘n koning in Jerusalem. Hulle het hulle klere voor Hom op die pad oopgegooi en juig Hom toe. In Markus 11 (vers 9 en 10 AFR53) lees ons dat hulle ook die woord Hosanna uitgeroep het, ‘red ons asseblief.’ Hierdie redding, die vrede is ook presies wat Jesus vir hulle wil bring. Hy, die beloofde Messias, bring ‘n koninkryk van vrede wat die hele wêreld omvat. Dit het Sagaria reeds geprofeteer. Jesus se koninkryk kom egter nie op die manier waarop die mense dit verwag het nie: nie deur geweld en wapenrumoer nie. Let op hoe Jesus in Jerusalem inry. Hy kom nie te perd nie, nie op die rydier van ’n strydende vors nie, maar hy ry op ‘n donkie, presies soos die profeet Sagaria dit voorspel het. In ons tyd word ‘n donkie meestal gesien as ‘n ‘dom’, minderwaardige dier, maar in daardie tyd was dit glad nie die geval nie. ‘n Donkie was, nes ‘n perd, ‘n koninklike pak- en rydier, maar ‘n rydier slegs in tye van vrede. Die redding wat Jesus kom bring, is dan ook geen gewapende bevryding van die Romeinse oorheersing nie. Sy redding is veel groter, veel omvattender: redding van sonde, skuld en dood. Nie deur geweld te gebruik nie, maar deur self te ly en te sterwe. Deur sélf die geweld te ondergaan. Om ons te red. Wat ‘n ontsagwekkende kosbare boodskap. Die fariseërs wil niks daarvan hoor nie, maar Jesus laat nie toe dat sy boodskap van genade die swye opgelê word nie. ‘As hulle stilbly, sal die klippe uitroep’, sê Hy. Dit is nes die profeet Sagaria dit honderde jare eerder geskryf het: ‘Juig, Jerusalem!’. Terwyl ons die inhoud van hierdie boodskap ken, kan ons mos nie meer swyg nie?

Maandag 30 Maart

PSALM 41:10 EN SAGARIA 11:12 VERVUL

Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek.

…Hulle het toe my loon afgeweeg: dertig stukke silwer.

Lees: Matteus 26:14-16, 20-25, 47-50

Gestel: ‘n goeie vriend of vriendin, iemand wat jy vertrou, iemand met wie jy lief en leed gedeel het, laat jou skielik alleen, deel jou geheime met ander mense en steek selfs mense teen jou op. Jy kan jou sekerlik indink hoe dit sal voel. En miskien het jy dit selfs al eenkeer, of meer kere, ervaar. Daardie pyn, die verdriet, die vertroue wat gebreek is. So iets kan jou tot diep in jou siel verwond. Jesus kan ook hieroor saampraat, dit het ons vandag gelees. Judas, een van sy beste vriende, verraai Hom by die hoëpriesters, om homself te verryk. Hy ontvang daarvoor dertig silwerstukke/sikkels, wat in dié tyd ongeveer gelykgestaan het aan vier maande se salaris. Maar ons weet nie of die geld sy enigste beweegrede was om dit te doen nie. Die Joodse leiers het natuurlik al verskeie kere duidelik gemaak dat hulle Jesus verkieslik uit die weg wou ruim.¹ Miskien het Judas hiermee ook probeer om sy eie bas te red. Maar wat die rede ookal was, vir Jesus moes dit ongelooflik pynlik en hartseer gewees het. Nie verraad deur ’n vyand nie, maar deur ‘n vriend, deur iemand wat Hy vertrou het, wat Hom persoonlik geken het. Anders as wat by ons meestal die geval is, het Jesus ook nog vantevore geweet dat dit sou gebeur. Kan jy jou indink hoe dit moes wees… En tog het Hy dit toegelaat. Hy kon Judas nie uitgekies het as sy leerling/dissipel nie. Hy sou hom kon gekeer het – kon voorkom het dat hy Hom verraai. Hy sou selfs kon voorkom het dat Hy aan die kruis moes sterf. Maar tog het Hy dit nie gedoen nie. Uit liefde vir ons. Om jou en my te kan red. Dis moeilik om die volle omvang te begryp. As jy daarby stilstaan, kan jy immers net in verwondering wees oor sy liefde?

As jy letterlik kán saamvoel met Jesus se pyn omdat jy nog steeds ly onder die pyn van verraad en seergemaakte gevoelens, skuil dan by Hom. Hy kán vertrou word. Hy sal jou nooit seermaak nie. By Hom is jy veilig.

¹ byvoorbeeld Johannes 10:31, 39

Dinsdag 31 Maart

SAGARIA 13:7 VERVUL

Kom, swaard, tref die herder in my diens, sê die HERE die Almagtige, tref die man wat so na aan My is. Maak dood die herder, dat die skape uitmekaargejaag kan word. Ek sal self optree, ook teen die kleinstes onder hulle.

Lees: Markus 14:26-31, 43, 48-52

Hulle maak slimpraatjies, al die leerlinge wat nog by Jesus is. Een het reeds vertrek en Jesus weet met watter doel. Wanneer Hy die res met ‘n verwysing na Sagaria 13:7 vertel wat Hom te wagte staan, reageer hul byna met ‘n uitbarsting. Petrus neem die voortou, maar die res stem daarmee saam (vers 31). ‘Hoe kan U dink dat ons U sal verlaat? Ons sal U nooit in die steek laat nie!’ Dit sou die strekking van hul woorde gewees het. Bedoel as ‘n teregwysing, maar ook as ‘n versekering van hulle getrouheid. Woorde om Jesus se bedrukte hart op te beur. Maar vir Jesus se gemoed sou dit soos dolksteke gewees het. Omdat Hy goed geweet het dat hulle dieselfde aand nog soos verskrikte muisies sou wegvlug. Om hul eie bas te red. Miskien beskou jy die wegvlugtende leerlinge as lafaards – en ja, miskien was Jesus se leerlinge ook lafaards op daardie oomblik. Maar wat sou ek en jy gedoen het as ons daar was toe ‘n groot groep swaargewapende mans op hulle afgestorm het en hulle meester geboei het? Ek is bevrees dat ek ook die pad sou gevat het. Bang en verward. As ons eerlik moet wees, beleef ons almal in ons lewe sulke ‘wegvlugmomente’. Byvoorbeeld daardie tye wat ons kies om nie oor ons geloof te getuig nie, uit angs dat ons as ‘vreemd’ beskou sal word, bespot sal word of geboelie sal word. Wat is ons verskoning oor die tye wat ons dink dat ons Jesus nie nodig het nie en self sal regkom? Of die oomblikke waar dit nie vir ons so goed sal uitwerk om ons keuses of ons gedrag aan te pas volgens God se wil en volgens sy Woord nie? Ek is bevrees dat elkeen van ons sal moet erken dat ons Jesus al baiemaal in die steek gelaat het.

Maar as ons wegloop, weghardloop of wegvlug van Jesus af, val al ons beskerming weg. Ons sien dit as ‘n simboliese gebeurtenis, waar die onbekende jongman in vers 51-52 sonder sy klere, kaal weghardloop. Jou ewige beskerming val weg as jy jou rug op Jesus draai. Maar hoewel ons getrouheid aan Hom elke dag weer faal, kan ons gelukkig weet dat Hy wel altyd getrou is. Dat ons altyd na Hom toe kan terugkeer en dat Hy ons dan met ope arms sal ontvang. Hý sal ons nooit verlaat nie. So het Hy belowe (Mat. 28:20). Dis nog meer om dankbaar voor te wees!

Woensdag 1 April

PSALM 27:12 EN JESAJA 50:4-5 VERVUL

Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan.

Die HERE my God het my geleer om die regte woorde te gebruik (…). Die HERE my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie.

Lees: Markus 14:53-61a; Matteus 27:11-14

Niemand van ons geniet dit om van iets beskuldig te word nie. Of ‘n beskuldiging gegrond of ongegrond is, in beide gevalle is ons eerste reaksie gewoonlik om te protesteer, en om dit te ontken. Daar is weliswaar ‘n groot verskil tussen gegronde en ongegronde beskuldigings. Wanneer die aanklag gegrond is, protesteer ons en ons ontken dit omdat ons bang is om ons status te verloor, of omdat ons vrees vir ander slegte gevolge. Maar wanneer jy onregverdig beskuldig word, voel jy daarmee saam ook baie seergemaak en magteloos. ‘Hoekom dink hulle dat ek dit gedoen het? Hoekom wil hulle my nie glo nie?’ Jesus het waarskynlik ook so gevoel tydens die verhoor in die hoëpriester se huis, en later by Pilatus. Hoe moeilik moes dit vir Hom gewees het – die Seun van God, die Man sonder sonde – om al die vals beskuldigings te hoor: beskuldigings wat versin is, of uitsprake van Jesus wat uit verband getrek is, en dit net omdat hulle ten alle koste wou hê dat Hy ter dood veroordeel moes word. Vir Jesus was daar immers veel meer op die spel as net sy goeie naam: sy lewe was in gevaar. Nogtans het Hy gekies om Homself nie teen al hierdie aanklagte te verdedig nie. Hy het nie ‘n advokaat aangestel, geen getuies geroep wat Hom kon lospleit nie, en self het Hy ook nie geprotesteer nie. Hy het nie woedend gereageer nie, nòg seergemaak, nòg bedroef. Nee, Hy het presies gedoen wat Jesaja eeue tevore al geprofeteer het: Hy het Hom glad nie verweer nie. Hy het stilgebly. Daarmee het Hy Homself vrywillig neergelê by die uitkoms van hierdie korrupte verhoor, wat al vantevore beslis was. Hy het die keuse gemaak om nie in opstand te kom nie, sodat sy groot oorwinningsmag uiteindelik aangetoon kon word, aan die kruis en deur die oop graf. Hy het nie probeer om Homself te bevry nie, sodat Hy όns kon verlos. Dat Jesus geswyg het was dus nie ‘n teken van swakheid nie, maar van liefde, liefde vir ons. Vir Hom was én is liefde immers belangriker as selfbehoud. Waar staan jy en ek ten opsigte hiervan?

Donderdag 2 April – ‘Wit Donderdag’

JESAJA 50:6 EN 53:4-7 VERVUL

Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.(…) die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. (…) Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie …

Lees: Matteus 26:67-68; Markus 15:16-20

Jesus word gereeld ‘die lam van God’ genoem. Ons lees dit reeds in Johannes 1, waar Johannes die Doper na Hom wys en sê: ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!’ (vers 29). Heeltemal aan die begin van Jesus se werk op aarde word dus reeds verwys na die doel waarvoor Hy na die aarde gekom het: om ons te bevry van die straf op ons sondes. Maar hoekom vergelyk Johannes Hom eintlik met ‘n lam? Dit hou verband met die Joodse offerdiens en veral met die offers tydens die Joodse Paasfees, die Pasga. Jesus het ook tydens die fees van Pasga gesterf. In Eksodus 12 lees ons dat die lam wat tydens hierdie fees geoffer moes word, sonder gebrek moes wees – ‘n onskuldige offer wat die sondes en foute van die mense bedek het. Dit het ook herinner aan God se bevryding uit slawerny. As ons oor die lyding van Jesus lees, sien ons dat Hy die rol van daardie Paaslam op Homself neem. Onskuldig, ‘sonder enige gebrek’ (sonder dat Hy ooit ‘n sonde gepleeg het), ondergaan Hy die lyding. Hy bied geen weerstand nie – nie teen valse beskuldigings nie en nie teen die bespotting, die mishandeling en die vernedering nie. Jesaja, wat lank gelede oor Jesus se lyding geprofeteer het, benadruk dat Hy dit alles vir ons gely het. As lam van God het Jesus ons plek ingeneem, het Hy die straf gedra wat ons op basis van

ons sondes verdien het – die doodstraf. Daarmee het Hy ons ook bevry van die ‘slawerny’ van die sonde (Rom. 6). Hy het Homself onskuldig aan die kruis laat vasslaan, sodat ons in die vryheid wat Hy vir ons wil skenk kan lewe. Die Nagmaal wat ons saam vier is die simbool hiervan. Hy het sy liggaam gegee en sy bloed is vir ons gestort, om ons te bevry. Hoe word jou dankbaarheid vir dié duurgekoopte vryheid sigbaar in jou lewe?

Vrydag 3 April – Goeie Vrydag

PSALM 22:16-19, 25 EN PSALM 69:22 VERVUL

…U laat my lê asof ek dood is. (…) hulle bind my hande en voete vas. Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. (…) Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.

Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

Lees: Matteus 27:35-37; Johannes 19:28-30

Waaraan dink jy as jy die woord ‘lyding’ hoor/lees? Maandag het ons reeds stilgestaan by verraad en seergemaakte gevoelens. Daar is ongelukkig nog baie ander goed waarmee ’n mens kan worstel of wat ons hartseer kan maak. Goed wat mense doen of iets wat met ons gebeur. Dink net aan onreg, die gemis of verlies van ‘n geliefde, ‘n (chroniese) siekte of beperking, eensaamheid, afkeer, vernedering, angs en pyn. Dis iets waaroor jy kan voel dat jy dit alleen moet dra, omdat daar niemand is wat jou verstaan nie. Die teksverse van vandag wil ons egter laat besef dat daardie gevoel nie korrek is nie. Daar is altyd iemand wat kan met ons meeleef in ons lyding: ons Here Jesus Christus. Aan die kruis het Hy immers nie alleen die straf op ons sondes gedra nie, maar ook alle gevolge van daardie sondes – al ons lyding. Hy weet wat pyn is, want sy hande en sy voete is deurboor. Hy weet wat vernedering is, want Hy het naak aan die kruis gehang terwyl die Romeinse soldate oor sy klere gedobbel het. Hy het dors gely, wat ons laat raaksien dat Hy werklik as mens gely het en weet wat ons as mense kan beleef. Sterker nog: ons besef dat Hy ook self al daardie goed moes deurstaan – vernedering, pyn, eensaamheid, (god)verlatenheid, angs, afkeer, weerloosheid, onreg, verdriet, dors en eindelik ’n liggaam wat vinnig verswak en dan die doodstryd… Hy kan ons dus nie net begryp omdat Hy kennis het van wat ons beleef nie, Hy kan ook met ons meegevoel hê omdat Hy ons pyn en moeite aan sy eie lyf ervaar het en dit vir ons gedra het. Dit kan vir ons tot troos wees wanneer ons worstel met die gebrokenheid van hierdie lewe. Ons Here en Heiland kyk nie anderpad as ons ly nie, Hy wil langs ons staan, ons troos en ons daardeur dra. Dit is een van die baie beloftes wat skuil agter die magtige woorde wat vandag letterlik ‘n Goeie Vrydag laat wees: ‘Dit is volbring.’

Saterdag 4 April – Stil Saterdag

JESAJA 53:9 VERVUL

Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by ’n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie. (AFR20)

Lees: Lukas 23:50-56

Stilte. Vir die een mens beteken dit rus, ‘n oomblik om te besin. Vir ’n ander persoon kan stilte juis baie beklemmend wees. Wat as God stil is? As Hy swyg en dit lyk of Hy glad niks doen nie? Sulke tye ken ons almal in ons lewe. Oomblikke wanneer jy voel dat God Hom van jou af weggedraai het en sy ore vir jou gesluit het. Ek stel my voor dat Josef van Arimatea en die vroue in ons teksgedeelte na die dood van Jesus ook iets soortgelyk gedink het. Die man op wie hulle al hul hoop gevestig het, het gesterf. En God het nie ingegryp nie. God het stilgebly.

Ons lees in die teksgedeelte dat Josef ’n lid van die Joodse Raad was. Dit beteken dat hy lid was van die Sanhedrin. Hy het nie saamgestem met die besluit van die raad om Jesus dood te maak nie. Ons weet nie of hy stilgebly het of nie in staat was om sy kollegas van gedagte te laat verander nie. Maar wat ons kan sien, is dat hy (heel moontlik in die geheim) ‘n volgeling van Jesus was. En na Jesus se dood was hy so dapper om na Pilatus te gaan en te vra of hy die liggaam van die kruis mag afhaal om hom te begrawe. Die Romeine het liggame van gekruisigde misdadigers dikwels sommer aan die kruis laat hang. Maar volgens die Joodse wet moes die liggame voor sonsondergang begrawe word, anders sou die land onrein geword het.¹ Wat ons vervolgens in ons teksgedeelte lees, is egter baie ongebruiklik. Jesus is nie begrawe in ‘n graf wat reeds gebruik was of in ’n massagraf nie, iets wat ’n mens sou verwag by iemand wat gekruisig is. Nee, Josef het Hom begrawe in ‘n graf wat hy solank vir homself gekoop het,² ‘’n rotsgraf… waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie’ (vers 53). En dit is geen toeval nie. Nee, met hierdie woorde het die profesie van Jesaja 53:9 in vervulling gegaan. So vertel juis hierdie kort frase vir Josef, die vroue én ons dat God sy gesig glad nie afgewend/weggedraai het nie. Dat stilte by God nie dieselfde is as sy afwesigheid nie. Hy was al die tyd daar en Hy het steeds die toutjies vasgehou. Selfs wanneer dit lyk asof God swyg, gaan sy plan voort en bly Hy getrou – ook in ons lewens. Hy sien ons en Hy hoor ons, altyd, elke oomblik. Ook op hierdie Stil Saterdag.

¹ Deuteronomium 21:22-23        ² Matteus 27:60

Sondag 5 April – Opstandingsondag

PSALM 16:10 EN JONA 1:17 VERVUL

U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.

Toe stuur die HERE ’n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en drie nagte in die vis se maag.

Lees: Lukas 24:1-9

Jy kan hulle soos ‘n skat koester – herinneringe aan die spesiale oomblikke wat jy gedeel het met iemand vir wie jy lief was. Herinneringe aan julle liefde en/of vriendskap. Sulke herinneringe is kosbaar. In die Paasevangelie wat ons vandag gelees het, speel herinneringe ook ‘n belangrike rol. Wanneer die vroue by die graf van Jesus kom, kom hulle met ‘n skok agter dat die klip voor die graf weggerol is. Waar is Jesus se liggaam? Het iemand die graf beroof? Jy kan dink hoe verbysterd en paniekerig hulle moes gewees het. Maar dan is daar skielik twee engele met ’n boodskap wat nie vir hulle sin maak nie: Jesus is nie hier nie. Hy het opgestaan. ‘n Boodskap wat klaarblyklik eers tot die vroue se verstand deurdring wanneer hul herinneringe aangehelp word. Hulle was mos daar toe Jesus sy wonderwerke gedoen het. Hulle het sy woorde gehoor. Die engele roep hierdie woorde nou weer in herinnering. ‘Onthou julle nog…?’ Treetjie vir treetjie maak hierdie boodskappers van God die vrouens se harte ontvanklik vir die kragtige boodskap: Jesus, die Here, het opgestaan! Waar Lukas in vers 3 skryf dat die vroue nie die liggaam van Jesus in die graf gekry het nie, is dit trouens die eerste keer dat hy Hom ‘die Here Jesus’ noem. In die boek Handelinge (wat ook deur Lukas geskryf is) tref ‘n mens dié aanspreekvorm vir Jesus baie meer aan. En dis nie toevallig nie: die eerste Christene het oor die ‘Here Jesus’ as die ‘Opgestane Here’, die Here oor lewe en dood gepraat. Die leë graf in vers 3 is die bewys van Jesus se Heer-skap. Dit is onmoontlik om die Opgestane Een in ‘n graf te kry. Psalm 16 het dit reeds gesê, en die drie dae wat Jona in die maag van die groot vis was, het reeds hierna heengewys. Jesus is ‘groter as Jona’.¹ Hy is Heer. Hy het die dood oorwin. Deur Hom kan ons weet dat die dood vir ons ook nie die einde is nie, maar ‘n deurgang na die ewige lewe saam met Hom.²‘Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?… Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.’³ Alle eer en glorie aan die opgestane Heer!

¹ Matteus 12:41. ² 2 Timoteüs 1:10. ³ 1 Kor. 15:55, 57.

Maandag 6 April – Gesinsdag/Paasmaandag

JESUS VERWYS NA DIE SKRIFTE WAT VERVUL IS

…As hy sy lewe as ’n skuldoffer gee, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die HERE sy doel bereik. Na sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het. (Jesaja 53:10-12)

Lees: Lukas 24:13-35

Die tema van die laaste Lydensweek (‘Stille Week’), ‘die Skrifte is vervul’, het na vore gekom uit die nuuskierige vraag oor alles wat Jesus in Lukas 24:27 vir die Emmausgangers sou vertel het. In die afgelope week het ons gekyk na ‘n aantal teksgedeeltes uit die Ou Testament wat met die lyding, die sterwe en die opstanding van ons Here Jesus in vervulling gegaan het. Dis tekste wat heenwys na Hom as die beloofde Messias. Dit is teksgedeeltes wat Hy moontlik vir die Emmausgangers uitgelê het, tekste wat ook wys hoe belangrik dit vir ons is om elke dag ons Bybel oop te maak en te lees. As ons ons opgestane Here steeds beter wil leer ken, moet ons nie net met Hom praat in ons gebede nie, maar moet ons na Hom luister deur sy (ant)woorde te hoor en te lees.

Ons leer ook nog iets anders in die teksgedeelte van hierdie Paasmaandag: die Emmausgangers het gedink dat hulle in ’n droomwêreld geleef het. Hulle hoop dat Jesus die beloofde Messias was, is na sy dood die nekslag toegedien. Hul hartseer en teleurstelling was selfs so groot, dat hulle die boodskap van die vroue, dat Jesus opgestaan het, ook as onsin beskou het. Totaal hopeloos stap hulle die ongeveer elf kilometer na Emmaus. Selfs toe Jesus langs hulle kom saamstap en vir hulle die Skrifte uitlê, het hulle Hom nie herken nie. Maar hoe groot hulle vertwyfeling, ongeloof en hartseer ookal was, Jesus het hulle nie in die steek gelaat nie. Nee, Hy het by hulle gebly – totdat hul oë uiteindelik oopgegaan het. Totdat hulle hartseer verander het in hoop. Totdat hulle die pad wat hulle eerder bedruk en in vertwyfeling gestap het, opgewonde en vol vreugde in die omgekeerde rigting teruggestap het. Terug na Jerusalem om daar te gaan vertel dat hulle dit met hul eie oë gesien het: ‘Jesus het opgestaan! Die redder van die wêreld lewe!’ Aan wie gaan jy dié fantastiese, lewensreddende nuus vandag vertel?