Home » Artikels » Gebed » “Bid dan die Here van die oes” of, GEBED VOORSIEN ARBEIDERS “

“Bid dan die Here van die oes” of, GEBED VOORSIEN ARBEIDERS “

posted in: Artikels, Gebed
gebed

Met Christus in die Skool van Gebed. Andrew Murray. Gefasiliteer deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk.
LES NEGE

 “Bid dan die Here van die oes” of, GEBED VOORSIEN ARBEIDERS “

Toe sê Hy vir Sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in Sy oes mag uitstuur”- Matthéüs 9:37, 38. Die Here het dikwels Sy dissipels geleer dat hulle moet bid en hoe hulle moet bid; maar selde wat hulle moet bid. Dit het Hy aan die behoefte van die harte en die leiding van die Gees oorgelaat. Hier het ons egter een ding wat Hy spesiaal op die hart bind. Met die oog op die grootheid van die oes en die behoefte aan arbeiders, moet hulle tot die Here van die oes roep om meer arbeiders.

Net soos Hy in die gelykenis van die vriend om middernag hulle wou laat verstaan dat die gebed nie selfsugtig mag wees nie, so is dit ook hier die krag waardeur die seën na andere kan kom. Die Vader is Here van die oes. As ons bid om die Heilige Gees dan moet ons Hom bid om arbeiders vir die werk voor te berei en uit te stuur. Is dit nie vreemd dat Hy Sy dissipels vra om hiervoor te bid nie? En kon Hy nie self gebid het nie? En sou een van Sy gebede nie meer doeltreffend dan ‘n duisend van hulle s’n gewees het nie? En is dit nie God, die Here van die oes, wat die behoefte gesien het nie? En sou Hy nie op Sy eie tyd die arbeiders uitstoot nie? Sulke vrae lei ons tot die diepste verborgenhede van die gebed en van sy krag in die Koninkryk van God. Die antwoord op sulke vrae sal ons oortuig dat die gebed waarlik ‘n krag is waarvan die insameling van die oes en die koms van die koninkryk baie sekerlik afhanklik is.

Gebed is geen vorm of vertoon nie. Die Here Jesus self was die waarheid en alles wat Hy gespreek het was die diepste waarheid. Dit was “toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen wagter het nie” dat Hy Sy dissipels versoek het om te bid dat arbeiders onder hulle mag uitgestuur word. Hy het dit gedoen omdat Hy werklik geglo het dat hul gebede nodig was en dat dit sou help.

Die gordyn wat die onsigbare wêreld so vir ons verberg, was vir die heilige menslike siel van Jesus wonderlik deurskynend. Lank en diep het Hy deurgedring tot die verborge verhouding tussen oorsaak en gevolg in die geestelike wêreld. Hy het opgelet in Gods Woord, toe Hy manne soos Abraham en Moses, Josua en Samuel en Daniël geroep en hulle mag oor mense in Sy Naam gegee het, hoedat Hy terselfdertyd vir hulle die mag en reg gegee het om die magte van die hemele tot hul hulp in te roep wanneer hulle dit nodig gehad het.

Hy het geweet dat, soos die werk van God hier op aarde aan hierdie manne van ouds, en aan Homself vir ‘n tyd lank, toevertrou was, so het dit op die punt gestaan om oor te gaan in die hande van Sy dissipels.

Hy het geweet dat, wanneer die werk aan hulle oorhandig sou word, dan sou dit nie ‘n saak van blote vorm of vertoon wees nie, en dat van hulle, hul getrouheid of ontrouheid, die sukses van die werk werklik sou afhang. As ‘n enkele indiwidu, in die   beperkinge van die menslike liggaam en menslike lewe, het Jesus besef hoe min ‘n kort besoek onder hierdie dwalende skape wat Hy rondom Hom gesien het, kon uitrig en het dus na hulp verlang waardeur daar vir hulle behoorlik gesorg kan word.

Daarom sê Hy nou vir Sy dissipels dat hulle moet begin bid, en wanneer hulle die werk van Hom op aarde sou oorneem, moes hulle dit een van die belangrikste versoeke in hul gebede maak: “dat die Here van die oes arbeiders in Sy oes mag uitstuur.” Die God wat die werk aan hulle toevertrou het, en wat dit tot so ‘n groot mate van hulle afhanklik gemaak het, gee aan hulle die mag om aansoek by Hom te doen vir arbeiders om te help, en Hy maak die voorsiening afhanklik van hul gebed.

Hoe min besef Christene werklik die behoefte aan arbeiders in die velde van die wêreld wat so wit is om geoes te word! En hoe min glo hulle dat die voorsiening van arbeiders afhanklik van hul gebed is, en dat die gebed werklik sal voorsien “soveel as hy nodig het”. Dit is nie dat die gebrek aan arbeiders nie bekend is of nie bespreek word nie. Dit is ook nie dat daar nie soms pogings aangewend word om in die behoefte voorsiening te maak nie. Maar hoe min word die las van die skape wat sonder ‘n Herder dwaal, werklik in die geloof gedra dat die Here van die oes, in antwoord op gebed, arbeiders sal uitstuur; en hoe weinig vind ons die plegtige oortuiging dat sonder hierdie gebed sal die velde wat ryp is vir die oes, gelaat word om verlore te gaan!

En tog is dit so. Die oorgawe van Sy werk in die hande van Sy Kerk is so wonderlik, en so afhanklik het die Here Homself van hulle as Sy liggaam gemaak, deur wie alleen Sy werk gedoen kan word; en so werklik is die mag wat die Here aan Sy volk gee om in hemel en op aarde te beoefen, dat die getal van die arbeiders en die omvang van die oes werklik van hul gebede afhang. Watter plegtige gedagte is dit nie! O, waarom is dit dat ons nie meer opreg gehoorsaam is aan die opdrag van die Meester nie, en dat ons nie ernstiger bid om arbeiders nie?

Daar is twee redes hiervoor. Die een is: dit ontbreek ons aan die medelye van Jesus wat die aanleiding tot hierdie versoek om gebed was. As gelowiges leer dat, om hul naaste soos hulleself lief te hê, om volkome te lewe vir die heerlikheid van God en hul medemens, die Vader se eerste bevel aan Sy verlostes is, dan sal hulle van die verloregaandes onder hulle sorg neem as dié wat die Here aan hulle toevertrou het. En as hulle hulle aanneem, nie net as die terrein van hul arbeid nie, maar as die voorwerpe van hul liefdevolle sorg en belangstelling, dan sal dit nie lank duur nie of medelye vir die hopelose verloregaandes sal hul harte aanraak, en die gebed sal opstyg met ‘n erns tot hiertoe vir hul onbekend: “Here! stuur arbeiders”.

Die ander rede waarom die bevel verwaarloos word, die gebrek aan geloof, sal dan vanself gevoel word, maar sal oorwin word namate ons jammergevoel om hulp smeek. Ons glo te min in die krag van gebed om definitiewe resultate te lewer. Ons leef nie na genoeg aan God en is nie geheel en al genoeg aan Sy diens en Koninkryk oorgegee om die vertroue te hê dat Hy dit aan ons, in antwoord op ons gebed, sal gee nie. O, laat ons bid vir ‘n lewe so een met Christus, dat Sy medelye in ons mag instroom en dat Sy Gees ons kan verseker dat ons gebed verhoor word.

Sodanige gebed sal ‘n tweevoudige seën vra en verkry. In die eerste plek sal daar die begeerte wees vir die vermeerdering van manne wat volkome aan die diens van God oorgegee is. Dit is ‘n vreeslike klad op die Kerk van Christus dat daar tye is wanneer daar werklik nie genoeg werkers vir die diens van die Meester gevind kan word om predikante, sendelinge of bedienaars van die Woord van God te wees nie. Namate God se kinders hierdie ‘n saak van gebed vir hul eie kring of Kerk maak, sal vir hulle gegee word. Die Here Jesus is nou die Here van die oes. Hy is verhoog om gawes mee te deel- die gawes van die Gees. Sy vernaamste gawes is werkers vervul met die Gees. Die voorsiening en distribusie van die gawes hang egter af van die samewerking tussen die Hoof en sy lede. Slegs gebed sal tot sodanige samewerking lei. Die gelowige bidders sal opgewek word om die werkers en die middele vir die werk te vind.

Die ander seën wat gevra moet word is nie van minder betekenis nie. Elke gelowige is ‘n arbeider. Daar is nie een van God se kinders wat nie verlos is om te dien nie, en vir wie daar nie werk is nie. Ons gebed moet wees dat die Here al Sy gelowiges so sal vul met die gees van toewyding, dat nie een ydel mag wees in die wingerd nie. Waar daar ook al die klag mag wees dat daar gebrek aan arbeiders, of van bekwame helpers in Gods werk is, daar het gebed die belofte dat daar voorsiening is. Daar is geen Christelike werksaamheid waar God nie bereid en by magte is om voorsiening te maak nie. Dit mag tyd en volharding beteken, maar die bevel van Christus om die Here van die oes te vra, is die waarborg dat die gebed verhoor sal word: “Ek sê vir jou hy sal opstaan en hom gee al wat hy nodig het.” Plegtige, heerlike gedagte! In die gebed besit ons die mag om in die nood van die wêreld te voorsien, om arbeiders vir God se werk te verkry. Die Here van die oes sal hoor. Christus wat ons geroep het om so te bid, sal ons gebede wat in Sy Naam en in Sy belang opgestuur word, steun. Laat ons tyd afsonder en onsself oorgee tot hierdie deel van die bediening van die voorbidding. Dit sal ons inlei in die gemeenskap van daardie medelydende hart van Hom wat Hom daartoe gelei het om ons gebedshulp te vra. Dit sal ons ophef tot die genot van ons koninklike waardigheid, as diegene wie se wens en wil vir iets by die grote God deurgaan in die uitbreiding van Sy koninkryk. Dit sal ons laat besef hoe ons inderdaad God se medearbeiders op aarde is, aan wie ‘n deel van Sy werk in werklike erns toevertrou is. Dit sal ons deelnemers laat wees in die arbeid, maar ook in die versadiging van sy siel, as ons weet hoedat, in antwoord op ons gebed, seën geskenk word wat anders nie sou gekom het nie. 

HERE, LEER ONS BID Dierbare Here! U het vandag weer een van U wonderlike lesse vir ons gegee om te leer. Nederig bid ons U om ons die geestelike waarhede waarvan U gespreek het, reg te verstaan. Daar is die oes wat so groot is en verlore gaan onderwyl dit wag op slapende dissipels om met erns te roep vir arbeiders om te kom. Here, leer ons om na die oes te kyk met ‘n hart wat van ontferming en medelye brand. Daar is die arbeiders, maar so min. Here, toon ons watter verskriklike sonde die gebrek aan gebed en geloof is, waarvan dit ‘n bewys is. En daar is die Here van die oes, wat so bekwaam en so gereed is om hulle uit te stuur. Here, toon ons hoedat Hy waarlik wag op die gebed waaraan Hy Sy antwoord verbind het. En daar is die dissipels, aan wie die opdrag om te bid gegee is. Here toon ons hoedat U U Gees kan uitstort en hulle so kan vul, dat U ontferming en die geloof in U belofte hulle sal opwek tot die gebed van volharding en wat groot krag het. O, onse Here! Ons kan dit nie begryp dat U so ‘n werk toevertrou en sulke krag gee aan mense wat so traag en ontrou is nie. Ons dank U vir almal wat U leer om dag en nag te bid dat arbeiders uitgestuur mag word. Here, stort U eie Gees op al U kinders uit sodat hulle kan leer om net vir hierdie een saak te lewe – die Koninkryk en heerlikheid van hul Here en dat hulle ten volle mag ontwaak tot die geloof van wat hul gebed kan verrig. En laat ons almal se harte in hierdie, soos in alle versoeke, vervul wees met die versekering dat die gebed, wat in liefdevolle geloof in die lewende God opgestuur word, met ‘n gewisse en oorvloedige antwoord gepaard sal gaan. Amen