Home » Artikels » Gebed » “Wat wil jy hê?” of, GEBED MOET DUIDELIK OMSKREWE WEES

“Wat wil jy hê?” of, GEBED MOET DUIDELIK OMSKREWE WEES

posted in: Artikels, Gebed
prayer changes things


Met Christus in die Skool van Gebed. Andrew Murray. Gefasiliteer deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk.
LES TIEN

“Wat wil jy hê?” of, GEBED MOET DUIDELIK OMSKREWE WEES

En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” – Markus 10:51; Lukas 18:41.

Die blinde man het luid en aanhoudend uitgeroep: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!” Die geroep het die oor van die Here bereik. Hy het geweet wat die man wou hê en was gereed om aan sy versoek te voldoen; maar voordat Hy dit gedoen het, het Hy hom gevra: “Wat wil jy hê, moet ek vir jou doen?” Hy wou van sy eie lippe nie net die algemene versoek om genade hoor nie, maar die duidelike omskrywing van die juiste ding waarna hy verlang het. Voordat hy dit nie uitgespreek het nie, kon hy nie genees word nie.

Daar is nog menige bidder aan wie die Here dieselfde vraag stel, en wat nie die hulp kan kry wat hy verlang voordat die vraag beantwoord is nie. Ons gebede moet nie ‘n vae beroep op Sy genade en barmhartigheid wees nie, ‘n onduidelike geroep om seën nie, maar ‘n duidelike uitdrukking van ‘n definitiewe behoefte. Dit beteken nie dat Sy liefdevolle hart nie die geroep verstaan of dat Hy nie bereid is om te hoor nie, maar Hy begeer dit ter wille van onsself. Sulke definitiewe gebed leer ons om ons eie behoeftes beter te ken. Dit deursoek en stel ons op die proef of ons begeertes eerlik en waaragtig is sodat ons bereid is om daarin te volhard. Dit lei ons om te oordeel of ons begeertes volgens die Woord van God is, en of ons werklik glo dat ons die dinge wat ons vra, sal ontvang. Dit help ons om op die regte antwoord te wag en dit raak te sien wanneer dit kom.

En tog is so baie van ons gebede vaag en sonder doel. Sommige vra om barmhartigheid maar doen nie die moeite om uit te vind wat barmhartigheid vir hulle moet doen nie. Andere vra miskien om van sonde verlos te word sonder om die presiese sondes te noem waarvan hulle verlos wil word. Andere weer, bid dat God diegene rondom hulle moet seën, dat Hy Sy Gees op hul volk of die wêreld moet uitstort, en het nogtans geen spesiale veld waar hulle vir die antwoord wag en verwag om dit te sien nie. Aan almal sê die Here: “En wat wil julle nou eintlik hê en wat verwag julle moet Ek vir julle doen?” Elke gelowige se kragte is beperk en moet derhalwe sy eie arbeidsveld hê waar hy kan werk; so moet dit ook met sy gebede wees. Elke gelowige het sy eie kring, sy huisgesin, sy vriende, sy bure. As hy een of meer van hulle by name noem sal hy vind dat hy dan werklik gebring word in die oefenskool van die geloof en gelei word om met God persoonlik en duidelik te handel. Dit is wanneer ons in sulke duidelike besondere gevalle in die geloof die antwoord toegeëien en ontvang het, dat ons gebede wat meer algemeen is, gelowig en van krag sal wees.

Dit is vir ons almal bekend watter verrassing dit vir die hele beskaafde wêreld was toe hulle gehoor het hoedat die Boere van die Transvaal die geoefende troepe by Majuba teruggeslaan het (1881). Waaraan was hul sukses toe te skrywe? Die soldaat in die leërs van Europa staan en vuur op die groot massa van die vyand sonder om ‘n doel vir elke koeël te soek. Met wildjag het die Boer ‘n ander les geleer; sy geoefende oog het geweet om elke koeël met ‘n definitiewe doelwit voor oë af te vuur en so het hy sy man gesoek en hom gevind. As ons op geestelike gebied ook so aanlê, sal ons ons doel bereik. Solank as wat ons in die gebedslewe maar net ‘n klomp gebede opstuur sonder om tyd te neem om uit te vind of elke gebed met ‘n definitiewe doel opgestuur word en of ons ‘n antwoord verwag, sal daar nie baie wees wat hul doel sal bereik nie. As ons egter ons siele in stilte neerbuig voor die Here en sulke vrae sou stel soos hierdie: Wat is nou eintlik my begeerte? Begeer ek dit gelowig deur ‘n antwoord te verwag. Is ek nou bereid om dit in die boesem van die Vader te lê en dit daar te laat? Is dit tussen God en my ‘n uitgemaakte saak dat ek die antwoord sal ontvang? Dan sal ons leer om so te bid dat God sal sien en ons sal weet wat ons presies verwag.

Om hierdie en ander redes waarsku die Here ons teen die ydele herhaal van woorde van die heidene, wat dink om deur die hoeveelheid van hul woorde verhoor te word. Dikwels hoor ons baie gebede wat ernstig en vurig is, waarin ‘n klomp versoeke opgestuur word, maar waarop die Verlosser ongetwyfeld sal antwoord: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” As ek in ‘n vreemde land is in belang van my vader se besigheid, sal ek sekerlik twee soorte briewe skrywe. Daar sal die briewe vir die huisgesin wees wat uitdrukking sal gee aan al die teerste gevoelens van liefde; en daar sal besigheid briewe wees wat bestellings omtrent my behoeftes sal bevat. Daar mag ook briewe wees waarin albei gevind sal word. Die antwoorde sal ooreenstem met die briewe.

Ek verwag nie ‘n spesiale antwoord op elke sin wat ek vir die familiekring skrywe nie, maar op elke bestelling omtrent my behoeftes verwag ek om ‘n antwoord te ontvang of die verlangde artikel aangestuur is. Wanneer ons met God onderhandel, mag die besigheid element nie ontbreek nie. Saam met die uitdrukking van ons node en sonde, liefde, geloof en toewyding, moet dit gepaard gaan met die duidelike omskrywing van wat ons verlang en verwag om te ontvang. In die antwoord verlang die Vader om ons die bewys te gee dat Hy Sy goedkeuring aan ons gebede heg en hulle aanneem.

Die Woord van die Meester leer ons egter meer as dit. Hy sê nie: Wat begeer jy? nie, maar: Wat wil jy hê? Dikwels begeer ons ‘n ding sonder om dit te wil he. Ek begeer om ‘n sekere artikel te besit, maar ek vind die prys is te hoog en ek besluit om dit nie te neem nie – ek begeer, maar wil dit nie hê nie. Die luiaard begeer om ryk te wees, maar sit nie sy wil daarop om fluks te wees nie. Menigeen begeer om gered te wees, maar gaan verlore omdat hy nie sy wil daarop gesit het nie. Die wil beheers die hele hart en wese van die mens, as ek dus waarlik iets wil hê sal ek nie rus voordat ek dit het nie. En as Jesus dus sê, “Wat wil jy ?” vra Hy of dit werklik ons doel is om te besit wat ons vra, kos wat dit wil, en hoe groot die opoffering ook mag wees. Wil u in der waarheid dit so graag hê dat u, al vertraag Hy die antwoord ook hoe lank, nie sal rus totdat Hy u antwoord nie? Hoeveel gebede is, helaas, wense wat vir ‘n kort tydjie opgestuur en dan vergeet word, of wat jaar na jaar opgestuur word uit blote pligsgevoel, terwyl ons tevrede met die gebed is sonder om nou eintlik ‘n antwoord te verwag!

Dit mag egter gevra word of dit nie beste is om ons begeertes aan God bekend te maak en dit aan Hom oor te laat om te beslis wat die beste is, sonder dat ons probeer om ons wil by Hom te laat geld nie. Nee glad nie. Dit is eintlik die vrug van die gelowige gebed waartoe Jesus probeer het om Sy dissipels op te voed, dat dit nie slegs sy begeerte bekend maak en dan die beslissing aan God oorlaat nie. Dit sou die gebed van onderwerping wees, in gevalle waar ons God se wil nie kan ken nie. Maar die gelowige gebed, wat God se wil in een of ander belofte vind, hou aan totdat die belofte vervul word. Ons lees in Matthéüs 9:28 dat Jesus vir die blindes gesê het: ”Glo julle dat Ek dit kan doen?” Hier in Markus sê Hy: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” In albei gevalle sê Hy dat die geloof hulle gered het. So het Hy ook aan die Siro-Feniciese vrou gesê: “Groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Geloof is niks anders nie as die doel van die wil wat op die Woord van God staatmaak en sê: Ek moet dit hê. Om opreg te glo is om sterk te wil.

Is om so te wil nie in stryd met ons afhanklikheid van en onderwerping aan God nie? Glad nie. Veel eerder is dit die ware onderwerping van ons wil wat God eer. Dit is eers nadat die kind sy eie wil geheel en al oorgegee het aan die Vader, dat hy vryheid en reg van die Vader ontvang om te wil wat hy wil hê. Maar as die gelowige eers eenmaal die wil van God aangeneem het, soos dit deur Sy Woord en Gees openbaar word, ook as Sy wil, dan is dit die wil van God dat Sy kind sy vernuwe eie wil in Sy diens sal gebruik. Die wil is die mens se hoogste vermoë en die genade van God wil bo alle dinge hierdie menslike wil in sy volle werksaamheid heilig en herstel as een van die vernaamste kenmerke van God se beeld. Net soos ‘n seun wat net leef vir die belange van sy vader se besigheid, wat nie sy eie wil soek nie, maar dié van sy vader, met sy vader se besigheid vertrou word, so spreek God tot Sy kind met alle opregtheid: “Wat wil jy hê?” Dit is dikwels aan geestelike traagheid te wyte, onder die voorwendsel van nederig te wees, dat ons voorgee om geen wil te hê nie, omdat ons bevrees is vir die moeite om God se wil te soek, of, wanneer ons dit ontdek, terugdeins vir die geloofstryd wat dit meebring. Ware nederigheid gaan altyd hand aan hand met sterk geloof wat net soek om te weet wat volgens die wil van God is, en wat dan met groot vrymoedigheid die vervulling van die belofte toe-eien, “Julle sal vra wat julle wil hê, en dit sal vir julle so wees.

HERE, LEER ONS BID

Here Jesus! Leer my om met my hele hart en al my kragte te bid, sodat daar nie by U, of by my, enige twyfel mag wees omtrent wat ek gevra het. Mag ek so seker wees van wat ek begeer, dat soos my versoeke in die hemel aangeteken word, ek hulle ook hier op aarde kan aanteken, en elke antwoord soos dit kom, kan afmerk. En mag my geloof in wat U Woord beloof het so helder wees, dat die Gees in der waarheid in my die vryheid sal werk om te wil dat dit sal geskied. Here! Vernuwe, versterk en heilig my wil geheel en al vir die arbeid van kragtige gebed.

Dierbare Verlosser! Openbaar tog aan my, ek smeek U, hoe wonderlik U Uself neerbuig, deurdat U ons vra om te sê wat ons wil hê dat U vir ons moet doen, en deurdat U beloof om te doen wat ons wil hê. Seun van God! Ek begryp dit nie. Ek kan maar net glo dat U ons inderdaad geheel en al vir Uself gered het, en dat U trag om die wil, as ons mees verhewe vermoë, tot U mees doeltreffende dienskneg te maak. Here! Onvoorwaardelik gee ek my wil aan U oor as die vermoë waardeur U Gees my hele wese moet regeer. Laat Hy daarvan besit neem, dit inlei in die waarheid van U beloftes en dit so sterk in die gebed maak dat ek altyd U stem mag hoor sê: ”Groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Amen.