Home » Artikels » Gebed » “Glo dat julle dit ontvang” of DIE GELOOF WAT DIE BELOFTE AANVAAR

“Glo dat julle dit ontvang” of DIE GELOOF WAT DIE BELOFTE AANVAAR

posted in: Artikels, Gebed
Gebedsgrop

Met Christus in die Skool van Gebed. Andrew Murray. Gefasiliteer deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk.
LES 11

“Glo dat julle dit ontvangof DIE GELOOF WAT DIE BELOFTE AANVAAR

Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” – Markus 11:24.

Wat ‘n belofte! So groot, so goddelik dat ons klein harte dit nie kan inneem nie, met die gevolg dat ons dit op elke moontlike manier beperk tot wat ons dink veilig en moontlik is, in plaas daarvan dit toe te laat om, met sy versterkende krag en energie, net soos Hy dit gegee het, in ons harte in te gaan en die te verruim tot die mate wat Sy liefde en mag werklik gereed is om dit vir ons te doen. Geloof is glad nie net ‘n blote oortuiging van die waarheid van God se Woord nie, of ‘n gevolgtrekking wat van sekere vooropgestelde idees gemaak is nie. Dit is die oor wat gehoor het wat God gesê het Hy sal doen, die oog wat Hom dit sien doen het, en waar daar dus ware geloof is, is dit onmoontlik dat die antwoord nie sal kom nie. As ons net toesien dat ons die een ding doen wat Hy vra: “glo dat julle dit sal ontvang,” dan sal Hy sorg dat Hy die ding wat Hy belowe het, doen: “Julle sal dit verkry.” Die grondtoon van Salomo se gebed (2 Kron. 6:4) “Geloof sy die Here, die God van Israel, wie se hand volbring het wat Sy mond met my vader Dawid gespreek het…” is die grondtoon van alle opregte gebed: die blye aanbidding van ‘n God wie se hand altyd die vervulling verseker wat Sy mond gespreek het. Laat ons met hierdie gees en gesindheid luister na die belofte wat Jesus gee, want elke deel het sy goddelike boodskap.

Alles.” Ons menslike wysheid trek sommer dadelik hierdie eerste woord in twyfel en vra: Dit kan sekerlik nie letterlik waar wees nie? Maar as dit nie waar is nie, waarom het die Meester dan hierdie sterk uitdrukking gebruik? Dit is ook nie dat Hy net hierdie een maal so gespreek het nie. Het Hy nie ook gesê nie: “As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo” (Mark. 9:23); “As julle geloof het…niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:20). Geloof is so geheel en al die werk van God se Gees deur Sy Woord in die voorbereide hart van die gelowige dissipel, dat dit onmoontlik is vir die vervulling om uit te bly. Geloof is die waarborg vir die voorloper van die antwoord wat kom. Ja, “alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Die neiging van die menslike rede is om hier tussen-by te kom met sekere omskrywende sinne “as dit wenslik is,” “as dit volgens God se wil is,” om die krag van ‘n bewering wat gevaarlik lyk, te breek. O laat ons tog versigtig wees om die Meester se woorde só te verdraai. Sy belofte is letterlik waar. Hy verlang dat die so dikwels herhaalde “alle dinge” van Hom moet insink in ons harte, aan ons die krag van die geloof moet openbaar, hoe waaragtig die Hoof die lede roep om met Hom in Sy krag te deel, hoe geheel en al onse Vader Sy krag tot beskikking van Sy kind wat Hom ten volle vertrou, stel. Geloof moet uit hierdie “alle dinge” sy voedsel en krag put; namate ons dit verswak, verswak ons ons geloof. Die alles is onvoorwaardelik, al voorwaarde is geloof. Voordat ons kan glo, moet ons uitvind en weet wat God se wil is. Geloof is dieoefening vir die siel wat oorgegee is aan die invloed van die Woord en Gees van God, en as ons eers waarlik glo dan sal niks vir ons onmoontlik wees nie. Mag God dit verhoed dat ons Sy “alle dinge” sal afwater tot wat óns dink is moontlik. Laat ons eenvoudig Christus se “alles” as die maat en hoop van ons geloof aanneem. Dit is die woord wat ons met ‘n saadkorrel kan vergelyk, wat, as dit geneem word net soos Hy dit gee, homself sal ontvou en wortel skiet, ons hele lewe met sy volheid sal vul en vrugte in oorvloed sal voortbring.

Alles wat julle in die gebed vra.” Dit is deur middel van die gebed dat hierdie “alle dinge” tot God gebring word en van Hom gevra en ontvang moet word. Die geloof wat hulle ontvang is die vrug van die gebed. In een opsig moet daar geloof wees voordat daar gebed kan wees en in ‘n ander opsig spruit die geloof weer voort uit en groei dit deur die gebed. Dit is deur die persoonlike teenwoordigheid van die Verlosser, as ons met Hom omgaan, dat geloof hom uitstrek en gryp na dit wat met die eerste oogopslag as te hoog voorgekom het. Dit is in die gebed dat ons ons begeerte in die lig van God se heilige wil stel, dat motiewe getoets word en die bewys gelewer word of ons werklik in die Naam van Jesus en net ter wille van die eer van God dinge vra. In die gebed is dit dat ons op die leiding van die Heilige Gees wag om ons te toon of ons die regte ding en dit in die regte gees vra. Dit is in die gebed dat ons ‘n besef kry van ons gebrek aan geloof en dat ons gelei word om aan die Vader te sê dat ons glo, en dat ons die opregtheid van ons geloof bewys deur die vertroue waarmee ons volhard. Dit is in die gebed dat Jesus vir ons leer en inspireer. Hy wat uitstel om te bid of wat moedeloos in die gebed word omdat hy voel hy het nie die geloof wat die antwoord sal verseker nie, sal nooit leer om te glo nie. Hy wat begin bid en vra sal ontdek dat die Gees van geloof nêrens so seker gegee word as by die voet van die troon nie.

Glo dat julle dit sal ontvang.” Dit is duidelik dat wat ons moet glo is dat ons daardie juiste dinge wat ons vra, ontvang. Die Verlosser laat ons nie verstaan dat, omdat die Vader weet wat die beste vir ons is, Hy vir ons iets anders gee nie. Tot die berg wat die geloof gebied, is in die see gewerp. Wanneer ons in alle dinge ons versoeke aan God bekend maak deur gebed en smeking, dan ontvang ons as beloning daarvoor die soete vrede van God wat ons hart en sinne bewaar. Dit is die gebed van vertroue. Dit het betrekking op dinge wat ons nie kan uitvind of God hulle gaan gee nie. As kinders maak ons deur die ontelbare dinge van die alledaagse lewe ons begeertes bekend en laat dit aan die Vader oor om aan ons te gee of nie te gee nie, net soos Hy goed dink. Die gelowige gebed waarvan Jesus spreek, is egter iets geheel anders en meer verhewe. As ons gelei word om te sien dat daar niks is wat die Vader so eer nie, of dit nou in die grotere belange van die Meester se werk òf in die gewone belange van ons daaglikse lewe mag wees, as die geloof wat die versekering het dat Hy sal doen wat Hy gesê het deur aan ons alles te gee wat ons vra. En dan te staan op die belofte wat deur die Gees tuisgebring is, dan mag ons met sekerheid weet dat ons sal ontvang presies wat ons vra. Let maar daarop hoe duidelik die Here dit vir ons maak in vers 23: “Elkeen wat… nie in sy eie hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.

Glo dat julle dit sal ontvang.” Hierdie woorde is van die allergrootste belang, maar die betekenis daarvan is ongelukkig te dikwels misverstaan. Glo dat jy die ding wat jy vra nou ontvang terwyl jy bid! Dit mag wees dat u dit eers later as ‘n persoonlike ondervinding sal hê, en sal sien wat u glo, maar nou, sonder dat u dit sien, moet u glo dat die Vader in die hemele dit vir u gegee het. Om ‘n antwoord op gebed te ontvang en te aanvaar, is net soos om die Here Jesus of vergifnis te ontvang of aan te neem – dit is ‘n geestelike saak, ‘n geloofsdaad afgesien van alle gevoel. As ek kom om vergifnis te soek, dan glo ek dat Jesus daar in die hemel vir my is en ontvang of neem Hom dan daarvoor aan. As ek om ‘n spesiale gawe na God kom in die gebed wat volgens die Woord van God is, dan glo ek dat wat ek vra vir my gegee word. Ek glo dat ek dit het en ek hou dit in die geloof vas en dank God terselfdertyd daarvoor. “En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom vra” (1 Joh. 5:15).

En julle sal dit verkry.” Dit wil sê dat die gawe wat ons eers in die geloof aanvaar, asof dit in die hemel aan ons geskenk is, ons persoonlike ondervinding sal word. Is dit dan nodig om nog langer aan te hou bid, as ons eers eenmaal weet dat ons verhoor is en ontvang het wat ons gevra het? Daar is gevalle waar sodanige gebed nie nodig sal wees nie, waar die seën onmiddellik kom, as ons maar net vol vertroue vasklem aan die belofte, en as ons ons geloof bewys deur die Here te loof vir wat ons ontvang al is dit nog nie ons ondervinding nie. Daar is ander gevalle waar die geloof wat ontvang het, nog verder getoets en gesterk word deur die volhardende gebed. Dis maar net God alleen wat weet wanneer dit in en om ons heen ryp is vir die deurbreek van die seën wat reeds aan die geloof geskenk is. Elia was seker dat dit sou reën, God het dit belowe, en tog moes hy sewe maal bid. Daardie gebed was geen vertoning of speletjies nie. Dit het gepaard gegaan met ‘n diepe werklikheid in die hart van hom wat daar laat lê en pleit het, en ook so in die hemel daarbo waar dit sy krag moes openbaar. Dit is, “deur die geloof en geduld dat ons die beloftes beërwe“. Geloof sê met die grootste vertroue: Ek het dit ontvang. Geduld volhard in die gebed totdat die gawe wat in die hemel geskenk is, op aarde gesien word. “Glo dat julle sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Tussen die ontvang in die hemel en die sal verkry op aarde is daar die glo. Gelowige lof en gebed vorm die skakel.

Onthou nog hierdie een ding: Dit is Jesus wat dit gesê het. As ons sien hoedat die hemel vir ons so geopen word en hoedat die Vader aanbied om ons te gee alles wat ons in die geloof vra, dan vul dit ons harte met skaamte dat ons so min gebruik gemaak het van ons voorreg, en met die vrees dat ons klein geloof nog nie kan vat wat so duidelik binne ons bereik gestel word nie. Een ding moet ons sterk maak en met hoop vul: dat dit Jesus is wat hierdie boodskap vir ons gebring het van die Vader. Toe Hy op die aarde was het Hyself die lewe van geloof en gebed gelei. Dit was toe die dissipels hul verbasing te kenne gegee het oor wat Hy aan die vyeboom gedoen het, dat Hy vir hulle gesê het dat dieselfde lewe wat Hy lei, hulle s’n kon wees; dat hulle nie net die vyeboom kon gebied nie, maar selfs die berg, en dit moes gehoorsaam. En Hy is ons lewe – alles wat Hy op aarde was, is Hy nou in ons en alles wat Hy leer, skenk Hy in der waarheid. Hy self is die Begin sowel as die Voleinder van ons

geloof. Hy gee die gees van geloof, laat ons nie bevrees wees dat sulke geloof nie vir ons bedoel is nie. Dit is vir elke kind van God bedoel. Dit is in die bereik van elkeen wat maar kinderlik genoeg wil wees en homself aan die Vader se wil en liefde wil oorgee en die Woord en krag van die Vader wil vertrou. Geliefde mede-Christen! Laat die gedagte dat hierdie woord deur Jesus, die Seun, ons Broer, tot ons kom, ons met moed vervul en laat ons antwoord wees: Ja, dierbare Here, ons glo U Woord, ons glo dat ons ontvang.

HERE, LEER ONS BID

Dierbare Here! U het van die Vader gekom om ons bekend te stel aan Sy liefde en aan al die skatte van seëninge wat daardie liefde aan ons wil skenk. Here! U het vandag weer die poorte so wyd oopgemaak, en ons sulke heerlike beloftes aangaande ons vryheid in die gebed gegee, dat ons moet bloos van skaamte dat ons arme ou harte so min daarvan ingeneem het. Dit was te groot vir ons om te glo. Here! Ons kyk nou op na U om ons te leer om hierdie kosbare woord van U te neem, te bewaar en te gebruik. “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.”

Geseënde Here Jesus! Dit is in U self wat ons geloof geanker moet word en moet groei, U werk het ons geheel en al vrygemaak van die mag van sonde en vir ons die weg tot die Vader oopgemaak. U liefde verlang maar gedurig om ons in die volle gemeenskap van U heerlikheid en krag te bring. U Gees is gedurig besig om ons opwaarts te trek na ‘n lewe van volmaakte geloof en vertroue. Ons weet verseker dat U ons sal leer om die gebed van die geloof te bid. U sal ons leer om so te bid dat ons glo dat ons ontvang, en om te glo dat ons werklik het wat ons vra. Here! Leer ons om U so te ken, te vertrou en lief te hê, om so in U te lewe en te bly, dat al my gebede tot God in U sal opstyg en kom, en dat my siel in U die versekering mag hê dat ek verhoor is. Amen.