Home » Artikels » Gebed » “Julle moet geloof in God hê” of, DIE GEHEIM VAN GELOWIGE GEBED

“Julle moet geloof in God hê” of, DIE GEHEIM VAN GELOWIGE GEBED

posted in: Artikels, Gebed
gebed

Met Christus in die Skool van Gebed. Andrew Murray. Gefasiliteer deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk.
LES 12

“Julle moet geloof in God hê” of, DIE GEHEIM VAN GELOWIGE GEBED

Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Markus 11:22-24.

Die belofte van gebedsverhoring waaroor die vorige les gegaan het, is een van die wonderlikste in die hele Skrif. In hoeveel harte het nie al die vraag laat ontstaan nie: Hoe kan ek ooit die geloof deelagtig word wat weet dat dit alles verkry wat dit vra?

Dit is hierdie vraag wat onse Here Jesus vandag vir ons wil beantwoord. Voordat Hy daardie wonderlike belofte aan die dissipels gegee het, het Hy ‘n ander woord gespreek, waarin Hy aantoon waar die geloof in die antwoord op die gebed sy oorsprong vandaan het, en altyd sy sterkte daaruit verkry. Julle moet geloof in God hê. Hierdie woord gaan die ander vooraf – om geloof in die belofte van gebedsverhoring te hê. Die krag om ‘n belofte te glo is volkome afhanklik alleen maar van geloof in die een wat die belofte doen. Vertroue in ‘n persoon wek vertroue in sy woord. Dit is alleen wanneer ons met God in persoonlike, liefdevolle gemeenskap leef en omgaan, wanneer God self alles vir ons is, wanneer ons hele wese gedurig oopgestel is en blootgestel word aan die magtige invloede wat werksaam is waar Sy Heilige Teenwoordigheid geopenbaar word, dat ons vermoë ontwikkel sal word om te glo dat Hy alles gee wat ons vra.

As ons dink wat geloof werklik is, dan sal hierdie verband tussen geloof in God en geloof in Sy belofte vir ons duidelik word. Dit word dikwels vergelyk met die hand of die mond waarmee ons neem en toe-eien wat vir ons aangebied word. Dis egter belangrik vir ons om te verstaan dat geloof ook die oor is waarmee ons hoor wat aan ons beloof word, en die oog waarmee ons sien wat vir ons aangebied word.

Hiervan is die krag om te neem afhanklik. Ek moet die persoon wat my die belofte gee, hoor. Die toon van sy stem is al genoeg om my moed te gee om te glo. Ek moet hom sien. As ek die lig in sy oë en op sy gelaat sien, verdwyn alle vrees oor my reg om te neem. Die waarde van die belofte hang af van wie die belofte maak. My geloof in die belofte is afhanklik van my kennis aangaande hom wat die belofte maak.

Om hierdie rede het Jesus, voordat Hy die wonderlike gebedsbelofte gegee het, eers gesê: “Julle moet in God geloof hê.” Met ander woorde, laat u oë altyd oop wees om die Lewende God en Hom, die Onsienlike, te sien. Deur die oog gee ek my oor aan die invloed van wat voor my is – ek laat eenvoudig toe dat dit my ook binnedring, sy invloed uitoefen en sy indruk op my gemoed nalaat. So is dit met die geloof in God – ek moet net na Hom kyk en

sien Wie Hy is en Hom toelaat om Sy teenwoordigheid te openbaar, Hom tyd gee en my hele wese aan Hom oorgee om die volle indruk van wat Hy as God is in te neem, die siel oopstel om die oorskaduwende liefde te ontvang en my in die belewenis daarvan te verheug. Ja, geloof is die oog aan wie God toon wat Hy is en doen. Deur die geloof stroom die lig van Sy teenwoordigheid en die werkinge van Sy Almag die siel binne. Soos dit wat ek sien in my leef, so leef God deur die geloof ook in my.

Net so is die geloof ook die oor waardeur die stem van God altyd gehoor en gemeenskap met Hom beoefen word. Deur die Heilige Gees spreek die Vader tot ons, die Seun is die Woord, die inhoud van wat God spreek en die Gees is die lewende stem. Hierdie stem het die kind van God nodig om hom te lei. Die verborge stem uit die hemel moet hom leer, net soos Hy vir Jesus geleer het wat om te sê en wat om te doen. ‘n Oor wat vir God oop is, dit wil sê, ‘n gelowige hart wat op Hom wag om te hoor wat Hy sê, sal Hom hoor spreek. Die woorde van God sal nie maar net woorde uit ‘n boek wees nie, maar as komende uit die mond van God, sal hulle gees en waarheid, lewe en krag wees. Wat anders maar net gedagtes is, sal lewende ondervinding wees. Deur hierdie geopende oor vertoef die siel onder die lewe en mag van God self. Net soos die woorde wat ek hoor my gemoed binnedring en daar bly en werk, so kom God in die hart deur die geloof en bly en werk daar.

As die geloof, as oog en oor, as die sintuig vermoë van die siel waardeur ons God aanskou en hoor, in volle werking is, dan sal dit in staat wees om sy volle mag as hand en mond, waardeur ons God en Sy seëninge toeëien, te beoefen. Daarom het die Here Jesus gesê, voordat Hy die belofte gegee het dat God die gelowige gebed sou verhoor: “Julle moet geloof in God hê.” Geloof is eenvoudig oorgawe: Ek gee my gemoed oor aan die indrukke wat ‘n blye tyding wat ek hoor, op my maak. Deur die geloof gee ek my oor aan die lewende God. Sy heerlikheid en liefde vul my hart en voer heerskappy oor my lewe.

Geloof is gemeenskap. Ek gee myself oor aan die invloed van ‘n vriend wat aan my ‘n belofte doen, en word daardeur aan hom verbind. Dit is dan ook wanneer ons met God self ‘n lewende gemeenskap aangaan, deur ‘n geloof wat Hom altyd sien en hoor, dat dit maklik en natuurlik vir ons word om Sy belofte van gebedsverhoring te glo. Geloof in die belofte is die vrug van geloof in die een wat die belofte doen, en die gebed van die geloof is gewortel in die lewe van geloof. So is ook die geloof wat met krag bid inderdaad ‘n gawe van God.

Dis nie iets wat Hy meteens gee of instort nie, maar in ‘n baie dieper sin is dit die geseënde gesindheid of gewoonte van die siel wat in ons bewerkstellig word en in ons groei deur ‘n lewe van noue omgang met Hom. Dit is tog seker vir iemand wat sy Vader goed ken en in gedurige gemeenskap met Hom leef, ‘n baie eenvoudige saak om die belofte te glo dat Hy die kind wat in so ‘n noue omgang met Hom verkeer, se begeertes sal skenk.

Dit is omdat so baie van God se kinders nie die verband tussen lewe van geloof as die gebed van die geloof verstaan nie, dat hul ondervinding omtrent die krag van die gebed so beperk is. As hulle baie ernstig ‘n antwoord van God verlang, dan sit hulle hul hele hart op die belofte en doen hul uiterste om dit in die geloof aan te gryp.

As hulle nie daarin slaag nie, is hulle gereed om hoop op te gee. Die belofte is as’t ware buite hul bereik om dit in die geloof vas te hou.

Luister wat die Here Jesus ons vandag wil leer: “Julle moet geloof in God hê, die lewende God.” Die oog van geloof moet meer na die God kyk as na die belofte. Dit is Sy liefde, Sy krag, Sy lewende teenwoordigheid wat die geloof in ons sal opwek en werk. ‘n Geneesheer sal aan iemand wat kla dat hy sy arms en bene so swak is dat hy nie kan werk of loop nie, sê dat sy hele gestel opgebou en versterk moet word. So kan ‘n sieklike geloof alleen genees word as die hele geestelike lewe deur omgang met God versterk word. Leer om in God te glo, om Hom aan te gryp, om God van u lewe besit te laat neem, en dit sal maklik wees om die belofte vas te hou. Hy wat vir God ken en vertrou, vind dit maklik om die belofte ook te vertrou.

Let maar daarop hoe duidelik dit uitkom in die lewens van die geloofshelde van ouds. Elke besondere betoning van geloofskrag was die vrug van ‘n besondere openbaring van God: “Die Woord van die Here het tot Abraham gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abraham, Ek is vir jou ‘n skild. Daarop lei Hy hom uit na buite en sê … En hy het in die Here geglo.” En later weer: “Die Here het aan Abraham verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige … Toe val Abraham op sy aangesig, en God het verder met hom gespreek en gesê: Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou.” Die feit dat God Homself aan Abraham openbaar het, het die lewende krag aan die belofte gegee om in die hart in te gaan en die geloof te bewerkstellig. Omdat hulle God geken het, kon hierdie manne van die geloof nie anders as om op Sy beloftes te vertrou nie. God se beloftes sal vir ons wees wat Hy self is. Dit is die man wat voor God wandel en op sy aangesig val om te luister terwyl die lewende God tot Hom spreek, wat werklik die belofte sal ontvang.

Al het ons God se beloftes in die Bybel en die volle vryheid om hulle te neem, ontbreek dit ons aan geestelike krag, behalwe in soverre as God hulle persoonlik aan ons gee; en Hy gee hulle alleen aan die wat saam met Hom lewe. U moet derhalwe geloof in God hê. Laat die geloof geheel en al oog en oor vir u wees, die oorgawe om God die volle indruk op u gemoed te laat maak en om Homself ten volle in u siel te openbaar. Reken dit vir een van die grootste seëninge van die gebed om geloof in God te beoefen as die Lewende, Almagtige God, wat verlang om in ons met al die goeie van Sy wil en die werk van die geloof met krag, te vervul. Hy is die God van liefde, wie se behae dit is om te seën en Homself te gee. As u God met so ‘n geloof aanbid, sal die krag gou kom om ook die belofte te glo: “Alles wat julle vra, glo dat julle dit sal ontvang.” Ja, u moet toesien dat u in die geloof God u eie maak, dan sal die belofte ook vir u wees.

Wat ‘n kosbare les wil Jesus ons nie vandag leer nie! Ons wil God se gawes hê, maar God wil eers Homself aan ons gee. Ons dink aan gebed as die krag wat goeie gawes van die hemel vir ons verkry, maar Jesus dink daaraan as die middel om ons tot God te trek. Ons wil by die deur staan en roep, terwyl Jesus wil hê dat ons eers moet ingaan en besef dat ons vriende en kinders is. Laat ons hierdie les leer. Laat elke ondervinding van die kleinheid van ons

geloof in die gebed ons aanspoor om eers meer geloof in die lewende God te hê en te beoefen, en om ons met sodanige geloof aan Hom oor te gee. ‘n Hart wat vol is van God het krag vir die gelowige gebed. Geloof in God wek ook geloof in die belofte van ‘n antwoord op die gebed.

Kind van God, neem dus baie tyd om voor Hom neer te buig, om op Hom te wag om Homself te openbaar. Neem tyd, en laat u siel met heilige vrees en aanbidding geloof in die Oneindige God beoefen en daar uiting aan gee, en namate Hy Homself gee en van u besit neem, sal die gelowige gebed die kroon wees van u geloof in God.

HERE, LEER ONS BID

O my God! Ek glo in U. Ek glo in U as die Vader, onbeperk in U liefde en krag. Ek glo in U as die Seun, my Redder en my Lewe. Ek glo in U as die Heilige Gees, Trooster, Gids en Sterkte. Drie-enige God, ek het geloof in U. Ek weet en is daarvan seker dat alles wat U is, is U vir my, en dat alles wat U belowe het sal U vervul.

Here Jesus! Versterk my geloof. Leer my om tyd te neem, te wag en te aanbid in die Heilige Teenwoordigheid totdat my geloof alles ingeneem het wat daar in God vir my is. Laat dit Hom aanskou as die Bron van alle Lewe, wat met Sy almagtige krag werk om Sy wil op aarde en in my te verwesenlik. Laat dit Hom in Sy liefde sien, soos Hy verlang om al my begeertes te vervul. Laat dit so van my hart en lewe besit neem dat deur die geloof net God daarin kan woon. Here Jesus help my! Ek verlang om in God met my hele hart te glo. Laat geloof in God my elke oomblik vul.

O my geseënde Verlosser! Hoe kan U Kerk U na regte verheerlik? Hoe kan sy die werk van voorbidding doen waardeur U Koninkryk moet kom, tensy ons hele lewe geloof in God is? Geseënde Here Jesus! Laat U Woord: “Julle moet geloof in God hê” tot die diepste dieptes van ons siele deurdring. Amen.