prayer changes things
Home » Artikels » Gebed » Gebed voor die verkiesing

Gebed voor die verkiesing

posted in: Artikels, Gebed

In 2019 het ons onderstaande artikel gepubliseer. Op 1 November 2021 vind die verkiesing vir plaaslike regerings plaas. Die punte hieronder geld nog steeds.

‘n Oproep vir alle gelowiges en gemeentes om te bid en te vas vir Suid Afrika!

In die Bybelboek van Ester, het die volk Israel by ‘n beslissende keerpunt gekom, wat op geweldadigheid kon uitloop. Nadat Ester en die volk Israel gebid, gevas en hul tot die Here gewend het, het God op ‘n bonatuurlike manier uitkoms en oorwinning gegee. Bergbron Gemeente glo Suid-Afrika staan op ‘n “Tipping Point” en voor geweldige uitdagings en keerpunte wat ‘n definitiewe uitwerking op geestelike, morele, fisiese en politiese vlak van ons sameweling kan hê.

Van die kritieke keerpunte is:

  • Algemene Verkiesing 2019
  • Geweld, misdaad en korrupsie
  • Toenemende haat tussen verskillende rasse- en kultuurgroepe
  • Morele verval en armoede
  • Grondkwessie
  • Ander beslissende hofsake vir die Kerk van Suid-Afrika

Ons glo dat God volgens 2 Kronieke 7:14 vir ons land en sy mense uitkoms kan gee. Ons opdrag is egter om na die Lewende God te draai, Sy wil en aangesig te soek en Hom te vra vir uitkoms. Ons glo ook dat die God van die Bybel dieselfde God van vandag is, en dat Hy vir Suid-Afrika ware herlewing kan en wíl gee asook om die land te genees en te herstel.

Daarom roep ons alle Gemeentelede/gelowiges op om deel te neem aan die gebedsinisiatief tot verdere kennisgewing:

  • Om as families, vriende, groepe en gemeentes ten minste 3 keer per week saam te kom om vir ‘n uur of langer te bid en God se aangesig te soek.
  • Om as individue te bid en te vas vir die tydperk en ten minste een uur per dag af te sonder

Gebedspunte vir die 2019 Algemene Verkiesing in Suid-Afrika

Strategie: Ons moedig gemeentes, gebedsgroepe, gebedswagte en individue aan om baie spesifiek op gebed vir die verkiesing te fokus. Ons vra dat Christene sal vas en bid vir hierdie aangeleentheid.

Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. (Jesaja 62:6) Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? (Lukas 18:7).

  1. Bid dat stede, dorpe en gemeentes spesiale tye van gebed sal organiseer soos bv. half-nagte van gebed en gebedsgroepe wat bymekaar sal kom met die uitsluitlike fokus om vir die verkiesing te bid en vir ons land om terug te draai na die God van die Bybel. Vra dat God self die leiers en amptenare sal uitsoek wat in gegeringsposisies aangestel sal word.
  2. Proklameer Jesus Christus as die Een wat oor hierdie land regeer. Proklameer dat die Here Jesus die Herder van hierdie land van ons is volgens Psalm 23:1 en nie die voorvaders of enige huidige of vorige of gestorwe presidente of enige ander leiers of geeste nie.
  3. Proklameer dat die God van die hemele die Vader van hierdie nasie is soos wat Matt.6:9 sê: “Ons Vader wat in die hemel is”. Dit is baie belangrik om die Vaderskap van God oor Suid-Afrika te proklameer. Verklaar Jesus Christus as die Herder en die Heilige Gees as die Een wat Suid-Afrika op die regte pad wil lei.
  4. “Laat u Naam geheilig word” Matt 6:9. Bid dat die naam van Jesus Christus geëer en verhoog sal word oor hierdie land en in elke sektor van die samelewing. Bid dat alle vorme en interpretasies van sekularisme, humanism en skeptisisme vernietig sal word.
  5. “Laat U koninkryk kom” Matt 6: 10. Bid dat die uitslag van die 2019 verkiesings sal lei tot die uitbreiding van die koninkryk van God in Suid-Afrika. Bid dat Sy wil in elke sektor van die Suid-Afrikaanse gemeenskap sal geskied. Bid dat elke ander koninkryk, hetsy menslik, demonies of okkulties, oud of modern, uitheems of inheems, privaat of openbaar, voor die Koninkryk van ons God, sy reg en geregtigheid sal buig.
  6. “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” Matt.6:12. Dit is belangrik om te weet dat die Here gekies het om Suid-Afrika in die verkiesings te lei. Laat ons bid vir helderheid en nugterheid van verstand sodat die mense (Christene en nie-Christene) sal kan onderskei wie die Here vir hierdie seisoen gekies het. Laat ons bid dat daar tydens die 2019 verkiesings Godvresende leiers verkies sal word. Vra die Here vir mense met integriteit en ‘n gewilligheid om te dien: vir die Nasionale Vergadering van 400 waaruit die partye op nasionale vlak 200 sal verkies en die ander 200 vir die provinsiale regeringsetels in al 9 die provinsies.
  7. “Gee ons vandag ons daaglikse brood” Matt 6:11. Kom ons vra God om die juk van armoede en werkloosheid en die sisteme wat dit bevorder, te verbreek.
  8. “En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” Matt 6:12. Bid dat die Heilige Gees deur vergifnis en versoening die harte en gedagtes van al die mense in Suid-Afrika sal vernuwe. Kom ons gebruik hierdie geleentheid om die sondes van ons land (afgodery, toordery, seksuele perversie en immoraliteit, korrupsie, onreg, bloedvergieting ens.) te bely, nie deur ander aan te kla nie, maar om te bely dat ons almal gesondig het en ver te kort skiet van die heiligheid van God (Romeine 3:5-18). Die sonde die land oor die afgelope tientalle dekades (nie net die tyd gedurende apartheid of die laaste 20 jaar nie). Laat ons in gehoorsaamheid almal vergewe wat teen ons gesondig het. Vra die Here vir leiers wat nie die nasie in sonde of onreg of korrupsie sal lei nie, maar wat reg en geregtigheid sal herstel in ons land.
  9. “En laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.” Matt 6:13. Dit is belangrik om die Here te vra om die land te beskerm teen versoekings en te verlos van die aanvalle van die Bose. Kom ons bid tot God dat geen leier of enige persoon dat deur die Bose gebruik word, deur die verkiesingsproses in sleutelposisies aangestel sal word nie. Toordery, misleiding, dreigimente en verskillende okkultiese aksies word deur sommige politici gebruik tydens verkiesings. Bid vir die vernietiging van die effek van al hierdie soort praktyke.
  10. “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Matt 6:13. Ons moet opnuut ons land aan God en Sy wil toewy.
  11. Bid dat leuens en valse beloftes deur politieke partye en kandidate aan die lig sal kom. Bid dat almal wat by onwettige praktyke, soos geldwassery, omkopery en bedrog betrokke is, in die openbaar bekende gemaak sal word, skuldig bevind en ooreenkomstig die landswet daarvoor vervolg sal word. Vra ook dat hulle tot bekering sal kom en gerehabiliteer word om ‘n effektiewe rol in die gemeenskap te kan speel.
  12. Bid oor die rol wat etnisiteit en rasse-konflik in die politieke proses in die land speel. Etniese voorkeure ignoreer dikwels bekwaamheid en fokus op etniese verwantskappe, taal en/of ras. Bid dat God ons sal bevry van “etniese politiek” en die praktyke wat daarmee saamgaan. Bid oor elke vorm van toordery wat die mense se gesonde oordeel kan vertroebel.
  13. Bid vir die kerk, die kinders van God, om terug te draai en aan hulle aan God toe te wy: “en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.” 2 Kronieke 7:14.
  14. Bid dat die media onpartydig sal wees tydens die verkiesing en nie die verkiesing sal misbruik om mense tot geweld op te sweep of mense emosioneel te manipuleer nie.
  15. Bid dat politici nie die kerk van Jesus Christus sal misbruik om hulle eie ambisies te bevorder of stemme te werf nie. Bid vir die kerk vir wysheid en onderskeiding.
  16. Die Kerk moet ‘n profetiese stem in hierdie tyd wees. Bid dat die kerk die Woord vreesloos en met vrymoedigheid sal preek. Bid dat die kerk nie daarvan sal wegskram om sonde of onreg uit te wys nie. Die taak van die kerk is o.a. om
    • te bid,
    • te staan vir Bybelse waarheid en goddelike waardes,
    • om Christene aan te moedig om te stem,
    • nie ‘n aandeel te hê in leuens, halwe waarhede, korrupsie en toesmeerdery nie,
    • nie veerdeeldheid te saai nie en
    • nie deel te neem aan negatiewe/bose praatjies en beskuldigings nie. Ons as Christene moet sonder vooroordeel, kompromie of vrees vir mense bid.
  17. Daar is reeds onluste, stakings en geweld in die land. Vals gerugte, beskuldigings, emosionele wonde van die verlede, rasisme tussen al die etniese groepe, swak dienslewering en die ekonomiese situasie in die land dra by tot die geweld en onrus in die land. Bid vir vrede in ons land in die aanloop tot die verkiesing, tydens die verkiesings asook daarna.
  18. Bid vir ‘n vry en regverdige verkiesing. Bid ook vir die IEC: dat daar geen korrupsie sal wees nie; vir effektiewe administrasie; bekwame mense om die werk effektief en deeglik te doen; stembriewe betyds afgelewer sal word; vir die opleiding van vrywilligers en dat hulle regverdig en betyds vergoeding sal ontvang; dat die hulpbronne nie misbruik sal word nie; dat identiteitsdokumente op die regte en wettige maniere hanteer sal word. Bid vir die stemdag: vir vrede in die kiesers se harte en geen geweld, manipulasie of intimidasie sal plaasvind nie. Vra dat mense nie afgeskrik of verhinder sal word om te stem nie en dat geen knoeiery met die stembusse sal wees nie. Bid dat die polisie alle vorme van opstand en rebellie sal kan hanteer.

Saamgestel deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk