Home » Artikels » Gebed » Gebed: Verootmoediging en Sondebelydenis

Gebed: Verootmoediging en Sondebelydenis

posted in: Artikels, Gebed
Gebed


Ons gaan in die volgende artikels fokus op Verootmoediging en Sondebelydenis. Bid dat die Heilige Gees aan jou sal openbaar wat moontlik tussen jou en die Here staan. Kom ons bely dit en plaas dit agter ons, sodat ons ‘n lewe van oorwinning kan lewe in Christus!

VEROOTMOEDIGING & SONDEBELYDENIS

As ons ons gebede begin met lofprysing en aanbidding, sal ons as vanselfsprekendons verootmoedig voor God, want hoe nader ons aan God kom, hoe meer word ons bewus van Sy heiligheid, Sy grootheid teenoor ons eie nietigheid en die grootheid van my eie en ander se sonde, soos in die geval van Jesaja – wat lankal vir ander gepreek het – maar nie anders kon nie as om uit te roep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is.” (Jesaja 6:5) Een van die vernaamste voorwaardes en eise vir voorbidding, is dat die voorbidder se lewe skoon sal wees. Hy moet alle bewuste, onbelyde sonde bely en daarmee breek; dit laat staan. Enige vorm van sonde verhinder gebed. Daaroor is Psalm 66:18 en Jesaja 59:1-2 baie duidelik.

“As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie.” Psalm 66:18

“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” Jesaja 59:1-2

Dit is baie belangrik dat ons vanuit ‘n rein hart tot God sal bid. In die Onse Vader gebed leer Jesus ons dat sondebelydenis ‟n noodsaaklike deel van ons gebede behoort te wees. Net soos ons vir ons daaglikse brood moet bid, is daar ook daagliks dinge waarvoor ons God om vergifnis moet vra – dinge wat ek gedoen, gesê of gedink het wat nie tot Sy eer is nie. Dit beteken nie dat ek met ‟n skuldkompleks loop en nie God se vergifnis vir die sonde wat ek reeds bely het, aanvaar nie, maar dit beteken dat ek met God se hulp ‟n sensitiewe gees ontwikkel wat sê: “Ek wil niks doen wat my Vader se hart seermaak nie.”

Gebed: Onse Vader wat in die hemel is. Here, ek bely vandag my sondes voor U. Dié sondes waarvan ek bewus én onbewus is. Here, vergewe my asseblief daarvoor. Ek wil niks doen wat die Heilige Gees bedroef nie. Ek plaas dit alles nou agter my en vra dat U my hart sal vernuwe. Ek vra dit in Jesus se kosbare naam.
Amen.

Gebed vir kinders: Klaagliedere 3: 20, 21 Ons bid dat kinders so bewus sal wees van U liefde en U ontferming, dat hulle nooit hoop in U sal verloor nie, Vader.