Home » Artikels » Gebed » Gebed: Verootmoediging & Sondebelydenis (vervolg)

Gebed: Verootmoediging & Sondebelydenis (vervolg)

posted in: Artikels, Gebed
gebed

Belydenis en berou is nie iets wat net by die boetwaardige sondaar of net by bekering hoort nie. Die woord bekering word op twee maniere in die Bybel gebruik. ‘n Persoon wat Jesus Christus vir die eerste keer as sy persoonlike Verlosser aanneem, kom tot bekering.

Maar daar is ook iets soos voortgaande bekering.

Elke gelowige doen nog steeds sonde en moet voortdurend sy sonde voor die Here bely en hom daagliks van daardie sonde bekeer. Om jou te bekeer, beteken om te draai, weg te draai van die sonde en na God toe te kom. God wil hê dat jy jou sonde sal bely en daarmee sal breek.
Wanneer jy dit doen, vergewe Hy jou en reinig Hy jou van daardie sonde.

Om verlossing van jou sondes te verkry, moet jy aanvaar dat Jesus as plaasvervanger vir jou sondes gesterf het. Op sy beurt verwag die Here nou dat jy jou sonde sal bely en laat staan.

Elke kind van God moet gereeld sy/haar eie hart ondersoek en sensitief wees vir die Heilige Gees wat hom/haar bewus wil maak van dinge in sy/haar lewe wat nie reg is nie.

Ons gesindheid moet ook wees: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23,24).

Vra die Heilige Gees om jou sensitief te maak, sodat jy kan weet watter dinge daar in jou lewe is wat jy voor die Here moet bely.

Pasop vir ‘n voortdurende gesoek na sonde in jou eie lewe, maar maak doodseker dat wanneer die Heilige Gees jou aandag op iets vestig, jy dadelik daarvan werk maak.

Gebed: Onse Vader wat in die hemel is, Here maak asseblief my geestelike oë en ore oop sodat ek meer sensitief vir U stem en U Gees kan wees. Ek vra dit in Jesus se naam.
Amen.

Gebed vir kinders: Psalm 146: 1,2 Ons bid, Vader, dat kinders U sal prys, so lank as wat hulle lewe. Mag hulle U lof besing solank as wat hulle daar is.